Ses mans is Saterdag (27/06) in ’n grusame ongeluk tussen drie motors buite Kuruman dood.
Volgens lt.kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, het die ongeluk naby die Mokala-winkelsentrum op die R31 na Hotazel gebeur.
Obakeng Morgan Katong (49), Motlalentwa Joseph Baganeneng (33), Leon Hollenbach (35), Roelf Kruger (40), Tevin Thamaga (24) en Arrie Tities (64) is op die toneel dood verklaar.
Mooi sê na bewering het die bestuurder van ’n Toyota Camry ’n Volkswagen Golf probeer verbygaan toe hy teen ’n aankomende BMW gebots het.
Een van die motors wat in die eerste botsing betrokke was, het die Golf getref.
Volgens Mooi was daar drie insittendes in elk van die motors.
Al drie insittendes van die Camry, twee van die BMW en een passasier van die Golf is dood.
Twee mense is met erge beserings na ’n hospitaal in Kuruman geneem.
Een insittende het die ongeluk oorleef en ook geen beserings opgedoen nie.
Talle boodskappe van skok en medelye aan Hollenbach se vrou, Nicole, is op haar Facebook-blad geplaas.
Die egpaar het drie jong kinders: tweelingseuntjies (2) en ’n babadogter.
’n Vriendin van die gesin, Irene Nieuwoudt Williams, skryf: “Here, ons weet nie hoekom nie en mag ook nie vra hoekom nie. Ek vra dat U Nicole en die drie kinders, en hul familie, in die holte van U hand sal neem. Vou hulle in U arms toe en vertroos hulle in die droewige tyd waar Leon so skielik uit hul lewens geruk is. Gee Nicole die nodige krag om haar en Leon se kindertjies groot te maak. Wees U hul Pappa.”
Op Thamaga se blad het Boithuto Moilwa geskryf hy kan steeds nie sy vriend se dood verwerk of aanvaar nie.
“Mag my kosbare maat se siel in vrede rus. Ek het net mooi herinneringe van hom en sal dit altyd koester,” het hy verder geskryf.
Baganeneng se suster, Diana Bekeur, het gesê: “Rus in vrede my broer. Ek kan nie verstaan hoekom jy ons so skierlik verlaat het nie. Dit is vir my bitter pynlik.”