Ons doen dit almal.

Ons regverdig onsself te maklik.

En kyk te vinnig weg van onsself af.

Dit is jammer en dien geen saak nie.

Natuurlik moet ’n mens opkom vir wat reg is en moet jy vir die waarheid veg en moet jy ook die waarheid dien.

Natuurlik moet ’n mens opstaan teen onreg en moet ’n mens die reg soek.

Maar dit is nie waaroor dit nou hier gaan nie.

Dit gaan oor ons onsself so maklik regverdig.

Meestal kom dit teen ’n prys.

Ons wil so tot elke prys reg wees dat ons mense daardeur sal verloor, verhoudinge sal versaak, goeie sake sal laat skade kry – solank ons net reg mag wees.

Reg kan wees.

Ons begin klein-klein in ons lewe daarmee wanneer ons skuld die eerste keer verplaas.

Jare gelede het ek gelees ons moet oppas om, wanneer ons kinders hul kop teen die tafel stamp, te sê: “Dom tafel, stoute tafel.” Só leer ons skuld verplaas na selfs iets wat op een plek staan en nie eens self kan beweeg nie.

Die werklikheid is: Ons moet leer om skuld te vat.

Soms moet ons kan opstaan en sê: Ek hoor, ek was verkeerd, ek is jammer. Die gevolge en die genade van ons verkeerddoen moet ons saam leer dra.

Die probleem is net dat dit so maklik is om iemand anders altyd die skuld te gee.

Skuld weg te skuif.

Myself te verontskuldig.

Dit kom teen ’n prys.

Soms is ons net verkeerd.

Punt.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article