Samson Sam Mbokane kyk Vrydag (22/07) na Jabulani Zuma, wat met hom en sy ander medebeskuldigdes in die Piet Els-moordsaak praat. Foto: Charné Kemp


Die oomblik toe een van die beskuldigdes in die opspraakwekkende moord op Piet Els, bekende sakeman van Kimberley, kort na die misdaad sy eie SIM-kaart in die oorledene se gesteelde selfoonhandstuk gedruk het, het hy homself verklap.

Dit was die getuienis wat Vrydag (22/07) in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor is.

Wyle Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest, (toe 68) is tydens die aanval gemartel en aangerand. Els is 111 dae ná die aanval op 24 Januarie 2018 op sy plaas buite Kimberley in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.

Die beskuldigdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), albei van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56), Themba Lawrence Maja (68) en Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal, wat tereg staan op ses aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van twee vuurwapens.

In 2019 het die speurders ontdek dat Mahomane sy eie SIM-kaart in Els se handstuk gebruik het. Mahomane is in hegtenis geneem en sy selfoonstate geanaliseer. So het die polisie op die ander verdagtes afgekom. Kapt. Hanlie Conradie, misdaadintelligensie-analis, het getuig dat sy al die beskuldigdes se selfoongebruik voor, gedurende en ná die misdaad ontleed het om verwantskappe tussen hulle te bepaal.

Volgens die selfoondata wat sy ontvang het, het Zuma op 22 Januarie om 08:23 in Kimberley aangekom. Sy foon was tot met sy vertrek op 24 Januarie om 06:47 via Boshof in die Vrystaat op verskeie selfoontorings in Kimberley bespeur. Dit beteken hy het meesal in Kimberley rondbeweeg. Mahomane se selfoon is ook op die betrokke nag op torings naby die misdaadtoneel bespeur.

Die verhoor word op 15 Augustus voortgesit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article