Ná deelname aan ’n nasionale en ’n ope kampioenskap in die Wes-Kaap het 19 karate-studente van Kimberley ’n allemintige 101 medaljes huis toe gebring.
Boonop het drie van die studente in die tydperk vir hul swart belt in karate gradeer.
Geraldine Swanepoel, instrukteur by die karateklub Mushin Kai Karate Noord-Kaap, vertel dat die studente tydens die onlangse vakansie aan twee kompetisies in Durbanville deelgeneem het. Op 29 September het die nasionale Mushin Kai Suid-Afrikaanse byeenkoms plaasgevind, en op 30 September die Mushin Kai Wes-Kaap- ope kampioenskap.
Van die studente het in meer as een divisie deelgeneem, en die meeste het ook in die unison katas (span van drie) en span-kumite (span van vyf) deelgeneem.
By die nasionale byeenkoms het hulle sewe goue medaljes, 13 silwer en 23 brons ingepalm, en in die ope kampioenskap 15 goud, 21 silwer en 22 brons.
Tydens die gradering op 28 September in Kraaifontein het Aidan du Plessis en Valencia Tiger vir hul Shodan (eerste Dan) gradeer, en Tatiana Tiger vir haar junior Shodan.
Swanepoel vertel dat die Hoërskool Adamantia in Kimberley karate as ’n skoolsport aanbied, en nege van die studente is leerlinge by die skool. Die skool is onder die klub Mushin Kai Karate Noord-Kaap geaffillieër.
Behalwe die blootstelling, ondervinding en inpalm van medaljes, sê Swanepoel vir talle van die studente was dit ’n eerste besoek aan die Wes-Kaap en die see. Te danke aan borge en skenkings kon die klub die studente vir ’n besoek na Tafelberg neem, asook vir ’n rit op die rooi oopdak Hop-on-Hop-off-toerbus, en het hulle die belewenis gehad om op Bloubergstrand ’n oefensessie te doen.
“Daar is so baie mense wat dit vir ons moontlik gemaak het om die groep Wes-Kaap toe te kon vat; en mense wat vir ons skenkings vir brandstof en padkos gegee het, en rugsakke geskenk het. Ons het drie keer blik-geskud vir geldinsameling. Kimberley se mense het groot harte; so baie het vir ons iets in ons blikke gegooi. Ons wil vir almal wat gehelp het, baie dankie sê.”
Swanepoel sê daar is ’n moontlikheid dat klublede volgende jaar in Botswana kan gaan deelneem, en dat hulle hard besig is om vir die jaareind-gradering en die Botswana-kompetisie te oefen.


