Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, het Maandag (08/08) tydens die bekendstelling van die Vala Zonke-slaggatherstelwerk-veldtog buite Barkly-Wes aangekondig dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) ‘n kantoor in die Noord-Kaap gaan oopmaak.
Sanral neem binnekort die bestuur van die besige R31-roete en sommige ander roetes van die provinsie oor.
Intussen het provinsiale owerhede planne om die watermassa weerskante van die R31-roete tussen Kimberley en Barkly-Wes vir besoedeling te toets, te suiwer en na die Vaalrivier te pomp.
Saul het met die bekendstelling van die veldtog op ‘n kompakteerder geklim om ‘n slaggat op die R374-roete te herstel. Dié nasionale veldtog is deur Fikile Mbalula, minister van vervoer, bekragtig en alle provinsies en munisipaliteite is aangesê om paaie spoedig te herstel.
Die R374-roete tussen Barkly-Wes en Windsorton is die afgelope maande deur druk verkeer en swaar gelaaide vragmotors beskadig wat erts na hawens in die Oos-Kaap vervoer. Die bestuurders is gedwing om die roete as ‘n ompad te gebruik weens herstelwerk op die R31-roete buite Kimberley wat vanweë ‘n watermassa verswak is.
Die watermassa op die Platfontein-pan het in ‘n dam weerskante van die R31-roete ontwikkel weens water wat reeds jare uit munisipale pypleidings lek. Die afgelope goeie reënseisoen het die probleem vererger. Die departement van paaie en openbare werke is besig om die pad met ‘n meter en ‘n half te lig.
Volgens Saul is hy bekommerd oor die aantal swaarvoertuie op Noord-Kaapse paaie.
Randall Cable, Sanral se westelike streekbestuurder, sê hy is ook bekommerd oor die baie vragmotors op die R31-roete.
“Ek glo die verkeersowerhede sal wetgewing toepas om die druk verkeer te verlig.”
Nog ‘n kwelling is die watermassa van Kamfersdam wat onder deur die spoorlyn en teen die N12-roete opdam. Cable sê hulle gaan die oorsaak daarvan in die volgende weke ondersoek.
“Ons sal beslissend optree. Indien ‘n waterlek die oorsaak is, moet dit opgelos word.”
Hy is verheug dat Sanral in ‘n gevorderde stadium is om verskeie strategiese Noord-Kaapse paaie oor te neem.
“Ons gaan die R31-roete van Santoy tot by Hopetown bestuur, asook ander soos tussen Port Nolloth en Steinkopf. Sanral gaan dus ‘n bykomende 1 000 km in die provinsie bestuur, wat die totaal op 4 500 km te staan bring.
“Ons eerste take is om slaggate en afgetrapte skouers te herstel, gras te sny en heinings te herstel. Langtermyn-ingrypings sal volg.”
Hy het padgebruikers aangemoedig om Sanral se app af te laai waarmee slaggate en die ligging daarvan dadelik vir herstelwerk aangemeld kan word.
Itumeleng Bulani, hoofdirekteur van paaie by die departement van paaie en openbare werke, sê hulle is besig om die watermassa by die R31-roete vir besoedeling te toets.
“Die departement van openbare werke, die Sol Plaatje-munisipaliteit en departement van waterwese wil die water suiwer en na die Vaalrivier pomp. Die departement van waterwese sal die lisensiëringsproses bestuur.”
Volgens Fufe Makatong, LUR van paaie en openbare werke, is ‘n kontrakteur pas aangestel om die slaggate en afgetrapte skouers op die R31 tussen Koopmansfontein en Middelpos te herstel.


