Sam Goldblatt, ʼn man met 99 jaar se seisoene agter hom, se lewensgeheim is die bergwater uit die Witteberge, sy Vrystaatse kinderlewe, die daaropvolgende studie- en eerste werksjare in Johannesburg en ’n vervulde beroep van 74 jaar in Kimberley as argitek.
“Natuurlik het God my gelei en my oorlede vrou Henrietta my uit die pad van gevaar gehou. Sy kon onheil voorsien en my daarvan weghou.”
Volgende jaar, sê Eleen de Klerk, sy lewensmaat, sal groot partytjie op 28 Februarie op sy 100ste verjaardag gehou word. Sy drie (ook afgetrede) kinders, agt kleinkinders en 11 kleinkinders sal dit saam vier, met sy vriende. Sy jongste suster is drie jaar gelede oorlede, maar sy suster van 97 leef nog. Sy ouers het tot in hul 80’s geleef.
Goldblatt sit by sy groot rekenaarskerm waarop hy “skelm” kaartspeel. Dit is as hy nie die aandelemark dophou en koerante aanlyn lees nie. Twee dae ’n week doen hy gimtrim saam met ander bejaardes in die Akasia aftree-oord in Kimberley, was en stryk hy wasgoed, en kook sommige Sondae kos. Hy klim die trappe na hul woonstel sonder te veel vermoeienis.

Onthou nare gevolge van Tweede Wêreldoorlog
Sy kinderlewe was in Rosendal waar hulle bergwater uit die Witteberge gedrink het. Hy onthou sy grootouers aan sy ma se kant met deernis. Sy ouma se broer was genl. Jan Smuts se adjudant.
“Sy het vertel hoe Smuts en sy burgers in die Anglo Boere-oorlog op die plaas in Barkly-Oos sou aankom. Dan is brood gebak en skaap geslag. My ouma wou vir Smuts bed in die huis opmaak, maar hy het buite geslaap saam met sy manskappe. Sy saal was sy kussing.”
Van toe af was sy oupa ʼn stoere Sap, maar sy seuns Natte. Dit was ʼn tyd toe mense polities erg verdeel was.
Sy ouma het vertel hoe dit hul gesin ‘n maand en 23 dae geneem het om met die ossewaens van Barkly-Oos na Rosendal te trek, waar Sam gebore is.
Nadat sy pa al sy vee in die 1933-droogte verloor het, het hulle baie rondgetrek omdat sy pa as plaasbestuurder op verskillende plekke gewerk het. Hy onthou die Tweede Wêreldoorlog, en die nare gevolge daarvan.
“Hulle kon net bekostig dat ek my st.9-jaar aan die Hoër Volkskool Potchefstroom voltooi. Dis waar die Duitse onderwyser vir my wêrelde oopgemaak het met al ons besprekings in die klas.”
Sam Goldblatt
Later het sy ma ʼn werk as matrone by die Young Woman’s Christians Association gekry, en het hulle Johannesburg toe getrek.
“Ons het in Jeppe op die grens met Malvern gebly, op die hoek waar die trem verbygery het.”
Hy kon verder skoolgaan aan die Hoërskool Helpmekaar maar het sy matriek met ʼn korrespondensiekursus voltooi. Hierna het hy werk by die argiteksfirma Moerdyk en Moerdyk van Gerhard Moerdyk gekry waar hy die kantoor moes beman, telefonis en tikker speel en boodskappe ronddra.
Sy ma het haar huis in Tweeling verkoop om vir sy eerste jaar in argitekstudies by die Universiteit van die Witwatersrand te betaal.
“Ek het die eerste jaar gedruip, want Engels was volksvreemd en die dosent wat wiskunde gegee het, was nie in staat om ons te onderrig nie.”
Sam Goldblatt
Raak betrokke in argiteksberoep
Teen dié tyd het die gesin in Parktown-Noord gebly. Hy het later by die munisipaliteit gewerk waar die heeltydse salaris van £20 beter was as die deeltydse salaris van £6 by die argiteksfirma. Goldblatt was by die ontwikkeling van Soweto betrokke.
“Middagete het ons oorkant die kantoor in die gimnasium geoefen en Sondae het ons sokker gespeel.”
Intussen het hy deeltyds studeer en sy graad verwerf.
Dorner & Muller, die firma waarby hy later werksaam was, het ontwerpe vir die Greatbatch & Timlim-firma in Kimberley gedoen. Dié twee argitekte het vele van Kimberley se bekende geboue, soos by die Kimberley Boys’ High School, Belgravia Junior School, Standard Bank, en ander ontwerp.
“Hulle het gevra of ek hierheen sal trek. Niemand wou sommer hier bly nie weens die hitte, en omtrent al afleiding was die Groot Gat. Ek en Henrietta was pas getroud toe ons in Desember 1951 in Kimberley aangekom het. Die mense was van die begin af so ontvanklik. Dié dat ek nou nog hier tussen my vriende bly en nie agter my kinders aan weggetrek het nie.
“Ons gesin het eers in Rhodesdene gebly, wat eintlik ʼn groot plaas was waar die kinders hase gejag het. Hulle sou oral met hul fietse ry, ook na die inryteater.”
Hy was diep betrokke by die Lions Clubs International wat welwillendheidwerk verrig het.
Kompleks dra sy naam
“Ons en Trudie van de Wall en ander het saamgewerk en geld ingesamel. Sy was ʼn maatskaplike werker wat by die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging betrokke was. Hulle het hul huis vir mense met gestremdhede ingerig. Saam het ons die eerste Jannie Brink-skool gebou waar die Hoërskool Adamantia nou is. Trudie het dit bewimpel dat die Kenilworth Utuliteitsmaatskappy (KUM, gestig in 1968) die Kenilworth-landgoed by De Beers gekoop het.”
Kenilworth is onder meer die tuiste van Yonder, ’n vaardigheidsontwikkelingsentrum vir volwassenes met ’n intellektuele gestremdheid.
Die Jannie Brink-skool is in die 1980’s na Kenilworth geskuif. Die Trudie van de Wall-gebouekompleks wat onder meer die werkswinkels huisves, is gebou, asook koshuise. Geld was te min vir ʼn groot kombuis en eetsaal.
Uiteindelik, en met baie se harde werk en bydraes, is die nuwe moderne kombuis en eetsaal gebou en in 2023 geopen. Dit is ontwerp met behulp van die argitek Henk van de Wall, Trudie se seun, en Pieter Olivier, wat van Goldblatt se vennote was.
Dié kompleks dra Goldblatt se naam ter erkenning van sy lewensbydrae om mense met gestremdhede se lewe te verryk. Hy is ook ’n direkteur van KUM.


‘Noord-Kaap se mense was vir hom goed’
Sy firma, op ʼn tyd bekend as Goldblatt, Yuill & vennote, het takke in Kuruman, Mafikeng en Bloemfontein gehad. Hulle het heelwat regeringskontrakte gekry om hospitale, munisipale geboue, koshuise en skole te ontwerp. Goldblatt het onder meer die Elizabeth Conradie-skool ontwerp. Een van sy vennote, David Yuill, het ʼn professor aan die Universiteit van die Vrystaat geword “totdat hy deur die politiek uitgewerk is weens sy regverdige idees oor menseregte.
“As die apartheidsregering ordentlike skoolopleiding en -geleenthede vir elke burger gegee het, het Suid-Afrika nie nou met al die probleme gesit nie. Hoe is dit moontlik dat ʼn swart man op ʼn bouperseel net toegelaat is om stene rond te dra, maar hy mog dit nie gelê het nie? Ons het oral baklei vir beter menseregte en geleenthede vir almal, tot by die parlement.”
Sam Goldblatt
“Omdat die Sishen-ysterertsmyn in Kathu is, het ek aangedring dat ons staalfabrieke in die Noord-Kaap kry. Die regering het nie geluister nie en dit in die Wes-Kaap gevestig, hoewel dit vandag gesluit is. Kyk hoe het die Wes-Kaap teenoor die Noord-Kaap ontwikkel en gegroei.”
Die Noord-Kaap se mense was vir hom en sy gesin oor die dekades heen goed, en hy vir hulle. Dié dat hy steeds hartlik op straat herken en gegroet word.



You must be logged in to post a comment.