Die bekende Sakkie se Arkie, ’n rivierboot en plesieroord in Upington, het ’n klinkende oorwinning in die hoogste hof van appèl behaal.
Die Dawid Kruiper-munisipaliteit is beveel om Sakkie se Arkie se regskoste te betaal en die gewraakte tenderproses, asook vorige hofbevele, is tersyde gestel.
Dit volg op ’n jarelange regstryd tussen die munisipaliteit en Oranjerivier Watersport, wat die bekende Sakkie se Arkie-rivierboot en ’n plesieroord op die oewer van die rivier bedryf.
Oranjerivier Watersport het die hofgeding aanhangig gemaak omdat hy getwyfel het of die korrekte wetlike prosesse gevolg is toe die tender in 2016 vir ’n erf langs die Oranjerivier aan die Upington-hotel toegeken is.
Die erf is vanwaar Sakkie se Arkie voorheen bedryf is.
Oranjerivier Watersport het 17 jaar lank erf 15747 van die munisipaliteit gehuur. Die vervaldatum van die laaste huurkontrak was einde Junie 2018, maar in Desember 2015 het die raad besluit om die erf te verkoop.
Die waarde is op R2,080 miljoen geskat en die tender met sekere vereistes vir die verkoop van die erf is ook geadverteer.
Ná die proses is die erf teen R2,4 miljoen aan die Upington-hotel toegeken. Oranjerivier Watersport se aanbod van R2,080 miljoen is weens ’n gebrek aan die vereiste bankwaarborg nie oorweeg nie.
Ontevrede hiermee het laasgenoemde ’n hofaansoek gebring om die oordragproses te staak en die toekenning van die tender tersyde te stel en te hersien.
Dié hersieningsaansoek het in die hooggeregshof in Kimberley met koste misluk, asook die aansoek om appèl.
Oranjerivier Watersport het die appèlhof met ’n versoekskrif genader om te beslis of die Upington-hotel se bankwaarborg aan die vereistes van die tender voldoen het en of die munisipaliteit die wetlike prosesse gevolg het.
Appèlregter Yvonne Mbatha het bevind dat die bankwaarborg streng gesproke nie ’n waarborg is nie. Dit bly ook in gebreke om die ontwikkelingskoste van die onroerende eiendom te beskryf.
Die munisipaliteit het voorts nie ingevolge die vereistes van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur die markwaarde teen die ekonomiese en gemeenskapsvoordeel opgeweeg, of dit op ’n raadsvergadering en ’n openbare vergadering bespreek of goedgekeur nie.
Die appèlhof het die appèlaansoek toegestaan en gelas dat die munisipaliteit die regskoste van Oranjerivier Watersport moet betaal. Die toekenning van die tender en die verkoopstransaksie van 8 April 2016 met die Upington-hotel is tersyde gestel en moet hersien word. Enige kontrakte wat uit die betrokke verkoopstransaksie gespruit het, is ongeldig verklaar.
Appèlregters V. Ponnan en B.C. Mocumie en waarnemende appèlregters P.A. Koen en T.R. Gorven het met Mbatha saamgestem.
Adv. Marius Snyman SC het in opdrag van CJ Willemse Muller & Babinszky Prokureurs in Upington vir Oranjerivier Watersport opgetree, en adv. Steven Rautenbach in opdrag van Becker, Bergh & More ingelyf in Upington vir die munisipaliteit.