‘n Sakeman is Maandag (10/01) helderoordag tydens ‘n gewapende rooftog op die parkeerterrein van die Mokala Mall-inkopiesentrum in Kuruman van sigarette en ’n onbekende bedrag geld beroof.
In ’n
sekuriteitsvideo van die voorval kan gesien word hoe die verdagtes die
niksvermoedende man omsingel. Een benader hom van agter en die ander een van
voor. Hulle dreig hom met hul vuurwapen en vat die twee houers, waarvan een ’n
boks is, uit sy hande. Hulle voel ook aan sy broeksakke. Dan jaag hulle met hul
sedanmotor uit die parkeerterrein.
Volgens ’n
inwoner loop die sakeman daagliks dieselfde paadjie, wat die rowers moontlik
geweet het. “Die slagoffer is van geld en sigarette beroof. Die rowers is ewe
nonchalant wanneer hulle van die man wegloop en in hul geparkeerde motor klim
voor hulle wegjaag. Daar was nie eens ‘n derde man agter die stuurwiel nie.
Alles het voor die sekuriteitskameras gebeur. Dit is skrikwekkend, want
inwoners beskou die inkopiesentrum as ‘n baie veiliger plek as die middedorp,
wat ‘n misdaadnes is.”
Volgens kapt. Mosimaneotsile Letsapa, polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 10:00 gebeur. “Die slagoffer is deur twee mans oorval. Hulle het hom met vuurwapens gedreig waarna hulle met hul buit in ’n motor gevlug het. Geen inhegtenisnames is nog gemaak nie, maar die polisie is besig met ’n ondersoek.
“Enigeen met inligting kan die polisie by 053-712-9800 bel of ’n teksboodskap aan 32211 stuur. Inligting sal streng vertroulik hanteer word,” sê hy.