Landbouweg, een van Kimberley se belangrikste verbyroetes waarlangs sakelui ook besighede soos fabrieke, bande-handelaars en ’n vulstasie bedryf, word weens slaggate en rioollekke al meer vermy.
Die Sol Plaatje-munisipaliteit wat die pad moet onderhou het vroeër vanjaar erken hulle het “besef dat die pad se onderhoud eintlik hulle verantwoordelikheid is, en nie die departement van paaie en openbare werke nie.”
Intussen het die roete vervalle geraak met slaggate, oop mangate, verstopte stormwaterslote en rioollekplekke. Herstelwerk wat die munisipaliteit in April aangepak het, is nog nie voltooi nie. Sakelui en motoriste is radeloos.
Albert Barnard, eienaar van Wheel Dealz, wat onder meer bande, skokbrekers en veerstelsels verkoop, sê die pad raak al stiller en besigheid daarmee saam. “My syfers van die laaste ses maande wys dat mense die pad vermy. Ek probeer ook so min as moontlik op die pad ry. Verlede week het iemand in ’n slaggat vasgesit. Ek het probeer help en het my waentjie se as morsaf gebreek.” Hy vertel van ’n ongeluk wat verlede Vrydag amper gebeur het toe ’n vragmotorbestuurder vir ’n slaggat rem getrap en die motoris amper agter in hom vasgery het.
“Dit kos baie geld om slaggate reg te maak. Ek het reeds R25 000 betaal om die slaggate in Brandstraat in die stad by my ander tak te herstel. Sakelui en inwoners het die slaggate en water- en rioollekplekke tientalle kere by die munisipaliteit aangemeld, sonder werklike optrede. Ek het al my verwysingsnommers. Pypleidings is verstop en wanneer dit reën oorspoel die pad. Mense ry langs of op die pad se skouer en in die veld, wat verdere probleme meebring.” Hy sê die rioolstank weens lekplekke is by tye “onuithoudbaar”. Dit kom voor of die riool in die vloedwatersloot, wat oorgroei is, afloop. Die mangate het nie meer deksels nie, en is lewensgevaarlik. Omdat hier nie straatligte is nie kan jy nie die oop mangate in die nag sien nie.”
Erik de Klerk, bestuurder van die Puma-vulstasie, bevestig die verkeer is minder op die pad omdat motoriste dit vermy. “Ons sake-bedrywighede het verlangsaam, terwyl brandstofpryse ook die hoogte inskiet.” Volgens hom is die slaggate gedurende reëntye en in die nag onsigbaar omdat Landbouweg geen straatligte het nie. “Die amptenare net een keer opgedaag om te kom kyk nadat ek al hoeveel keer gebel het. Die stukkende rioolpompstasie oorkant ons perseel, wat afdraande lê is ’n ernstige probleem. Dit veroorsaak ’n stank en mense wil nie deur die rioolvuil ry nie. Ek het ’n masjien gehuur om ’n sloot te grawe sodat die rioolvuil in ’n drein kan vloei.”Marie Beylefeld, DA-raadslid, sê die pad is vir vyf jaar nie onderhou nie en groot stroke teer het verbrokkel.
“Dit is ‘n belangrike ekonomiese deurpad vir vragmotors wat ook vee vervoer. Dit is gevaarlik vir mens en dier, en benadeel boerdery- en ander sakeondernemings. Op sommige plekke is daar nie straatligte nie en die straatligte by die verkeersirkels is buite werking weens kabeldiefstal. Sy sê die DA gaan ? petisie in die omgewing rondstuur wat mense moet onderteken. “Lewens is op die spel en die ekonomie is van die pad afhanklik,” sê sy.
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê dit is ’n betreurenswaardige situasie omdat hul geld opgeraak terwyl hulle nog die slaggate herstel het. “Ons kan nou voortgaan danksy ’n nuwe begroting in die nuwe geldjaar. Die aankoopstelsel is stadig omdat dit gebombardeer word. Die nuwe bestellings is agterstallig van die vorige finansiële jaar. Sodra die stelsel nuwe bestellings magtig, kan ons materiaal bekom om die slaggate te verseël.” Sy sê hulle het vele uitdagings met deksellose mangate.
“Diefstal vererger die probleem omdat die deksels verkoop word. Ons sal werkers stuur om die mangate toe te maak. Ons pypleidings is verstop weens oorgroeide gras en bome asook vreemde voorwerpe wat in waterkanale gegooi word. Ons sal ’n span werkers uitstuur om die toestand van die waterkanale te assesseer en te bepaal watter gereedskap nodig is om die kanaal skoon te maak.”


