’n Sakevrou van Hartswater is in die streekhof in Kimberley tot effektief vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat sy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uit honderdduisende rande bedrieg het.
Davida Marie de Wet (62), wat lusern verkoop het, is op Dinsdag 6 Februarie deur streeklanddros Danie Schneider op 18 aanklagte van bedrog vyf jaar tronkstraf opgelê. Op 102 aanklagte van vervalsing en 103 aanklagte van uitgifte is sy tot tien jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
De Wet se vonnis spruit uit bedrieglike opgawes wat sy tussen 31 Julie 2013 en 24 Augustus 2016 namens Wildfire Trading 138 CC ingedien het waarin vals BTW-terugbetalings geëis is en wat tot ’n algehele verlies van R985 136,72 vir die SAID gelei het. Dié bedrag sluit in ’n werklike verlies van R682 932,76 wat uitbetaal is en R302 203,96 in potensiële verlies wat nie uitbetaal is nie.
Luidens die klagstaat het De Wet belastingfakture vir die aankoop van lusern gefabriseer en BTW van die SAID geëis, hoewel geen BTW op die transaksies gehef is nie.
Die vervalsing is gepleeg deurdat De Wet 102 vervalste fakture geskep het om by die SAID in te dien gedurende oudits wat uitgevoer is op die ingediende belastingopgawes.
Die oortreding is gepleeg toe die vervalste fakture by die SAID ingedien is as bewys om die bedrae te staaf wat in die opgawes geëis is.
Adv. Martin Molokwane van die gespesialiseerde belastingeenheid in Kimberley was die aanklaer. Die SAID se strafregtelike ondersoekeenheid in Kimberley het die ondersoek gedoen.
- In ’n onverwante belastingbedrogverhoor in die handelshof in Kimberley is ’n maatskappydirekteur gevonnis tot ’n boete van R600 000 of vyf jaar tronkstraf.
Zo Marius Augustian Bocks (54) se maatskappy, Batsha Ba Tirong Financial Management (Pty) Ltd, is ’n boete van R200 000 opgelê.
Dit kom nadat Bocks en sy maatskappy vroeër op twee aanklagte van die oortreding van die Wet op Belastingadministrasie skuldig bevind is.
Adv. Tebogo Moheta van die gespesialiseerde belastingeenheid in Kimberley het aangekla, en die SAID se strafregtelike ondersoekeenheid het die saak ondersoek.
– Kaydene Davids


