’n Burgerlike organisasie wat weens klagtes en ontevredenheid tot stand gekom het, het in een wat tot hoop én ’n skoner dorp bydra, verander.
A Kheis of Hope het ontstaan toe ’n paar ontevrede vroue nie langer die verval in Groblershoop wou aanskou nie en tot aksie oorgegaan het. rin e jy
Tydens die skoonmaak-aksies wat dié organisasie tot dusver gereël het, het die hele gemeenskap ingespring.
“Hoop met aksie” is die saadjie wat geplant is en die reaksie van die gemeenskap was oorweldigend, vertel Anta de Jager, voorsitter.
Die organisasie wil inwoners weer hoop gee en laat besef dat elkeen ’n verskil kan maak.
Hope tuinvuilgoed is verbrand en bome gesnoei.
Die vullisstortingsterrein wat weens jare se verval en verwaarlosing onbegaanbaar geraak het, is ook getakel. Masjinerie is gebruik om die pad na die terrein toeganklik te maak, en nuwe gate is gegrawe waar die vullis gestort kan word.
Berge rommel is deur onder meer die plaaslike boerevereniging, besighede, ! Kheis-munisipaliteit, skole, ATKV-tak, politieke partye, polisie, staatsdepartemente, kerkgroepe, asook huisvrouens, werkloses, werkendes, bejaardes en jeugdiges getakel.
Skenkings van swartsakke en handskoene is ontvang, en vragmotors vol gevulde sakke is weggery.
“Ons het gaan slaap met ’n wolk van stof en rook oor die dorp; die bewys dat daar gewerk is,” sê De Jager.
Op 20 Augustus is ’n tweede skoonmaak-aksie aangepak.
“Elke persoon wat gehelp het, papier vir papier, bottelstuk vir bottelstuk, jy weet wat jy ingesit het – geld, tyd – ons bedank jou.”
De Jager sê baie werk is nog nodig om jare se agterstand in te haal om Groblershoop se “kroon netjies op haar kop te sit”, en daarom sal die aksie maandeliks plaasvind.
“Ons nooi elke inwoner om die pad vorentoe saam met ons te stap,” sê sy.
Die organisasie versoek inwoners om vullis op die aangewese plek weg te gooi of uit te sit – dromme in die dorp is nie vir persoonlike vuilgoedsakke nie.
Sakke kan ook in die nuwe vuilgoedgat by Sternham/Witblok geplaas word.
“Daar sal stelselmatig van woonbuurt na woonbuurt beweeg word om die lewensgehalte en -verwagting van inwoners van die hele ! Kheis-gebied te verbeter.
“A Kheis of Hope streef daarna om elke inwoner te laat besef dat vooruitgang in sy of haar hande is.”
Die volgende aksie vind in September plaas. Bel vir De Jager by 072-447-6740.


