Saak ‘vol weersprekings’

Uitspraak in die verhoor teen die vermeende moordenaars van Leon Brits sal na verwagting binnekort gebeur.


Uitspraak in die verhoor teen die vermeende moordenaars van Leon Brits sal na verwagting binnekort gebeur.

Waarnemende regter Stanley O’Brien het Maandag (31/01) en Dinsdag (01/02) argumente van die staat en verdediging aangehoor nadat Enrich Williams (35) en Amantle Bareki (25) ook hul saak gesluit het sonder om te getuig of getuies te roep.

Leon, sakeman en eienaar van die Pofadder-hotel, is op 7 Oktober 2020 in sy huis in Pofadder met ’n hondeketting verwurg. Sy lyk is daarna in die swembad gegooi.

Waardevolle artikels is uit die kluis gebuit om die motief van die moord weg te steek.

Suretha Brits (31), vrou van die slagoffer, dien reeds ’n vonnis van 25 jaar gevangenisstraf uit vir haar aandeel in die huurmoord. Sy het erken sy het R200 000 betaal om hom te laat vermoor.

Jacques van Vuuren, middel­man, dien sy vonnis van 20 jaar uit nadat hy skuld op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuur­wapens en ammunisie beken het.

Terwyl die verdediging aangevoer het dat die staat se saak “dood en begrawe is en net ’n grafsteen kort”, het die staat betoog dat Brits en Van Vuuren geloofwaardige getuies was en hul weergawes deur omstandigheidsgetuienis gestaaf is. Die staat se saak berus op 62 feite, waarvan sommiges onbetwis is.

Volgens adv. Hannes Cloete, aanklaer, het die beskuldigdes se weergawes in die verhoor verander. Hy voer aan hul weergawes is “lagwekkend”.

Williams het glo in ’n bekentenis (wat hy ontken) die moordkomplot erken, maar gesê hy het kop uitgetrek. Volgens die staat weerspreek ook Bareki homself.

Katlego Moribe voer namens Williams en Bareki aan dat die saak swak is, en dat daar nie wesenlike bewyse is om skuld bo alle twyfel te bewys nie.

Moribe meen Brits is ’n leuenaar wie se getuienis nie aanvaar kan word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.