Diefstal van onder meer elektriese kabels om die koper te herwin word meestal deur sindikate uitgevoer. Allerlei ander produkte van koper, soos waterpype, word ook gereeld gesteel.

Foto: Facebook/SAPS

Suid-Afrika is ’n nes van goed georganiseerde misdaadnetwerke en ’n hemel vir die hoofde van hierdie netwerke.

In ’n rillerverslag van meer as 200 bladsye deur die Global Initiative Against Transnational Organized Crime­ (GI-TOC), word ’n prentjie geskets van hoe hierdie misdaadnetwerke in minstens 15 sektore werk en onderling verbind is – van onwettige mynwerkers (zama-zamas), die taxibedryf, dwelm- en wildsmokkelaars, renosterstropers, transitorowers, vragmotorkapers en die konstruksiemafia. Hulle is betrokke by ontvoerings, handel in onwettige vuurwapens, mensehandel, brandstofdiefstal, kubermisdaad, ekonomiese misdaad en gesondheidsorgmisdaad.

Suid-Afrika is vyfde in Afrika op die GI-TOC se indeks wat georganiseerde misdaad meet. Wêreldwyd is Suid-Afrika 19de – voor lande soos Libië, Brasilië en Rusland.

Luidens die verslag is staatsinstellings wat die misdaad moet bekamp só uitgehol weens korrupsie en staatskaping, dat hierdie netwerke floreer. Selfs klein ondernemings, soos spazawinkels in townships word deur die netwerke geteiken.

“ ’n Vrou van Khayelitsha by Kaapstad wat vetkoek en gebraaide aartappels verkoop, is deur ’n groep mans genader wat geëis het sy moet maandeliks R1 500 vir hulle gee – dan sal hulle haar besigheid beskerm.”

Die verslag verwys na “Mr. Big”, Petros Sydney Mabuza, ’n multi-sektormisdadiger wat in Junie verlede jaar vermoor is.

Hy was ’n berugte leier van ’n renosterstroopsindikaat, maar was betrokke by transitoroof, afpersing, was ’n geldleenskurk en ’n diknek in die taxibedryf in Mpumalanga. Sy horingstroop-mafia het hy in die vroeë 2000’s begin. In 2018 is Mabuza in hegtenis geneem en aangekla. In 2020 is die ondersoekbeampte, lt. kol. Leroy Bruwer, in ’n sluipmoordaanval vermoor. Die handel in gestroopte renosterhoring word ook met die onwettige handel in vuurwapens verbind.

Luidens ’n 2020-verslag van die organisasie Verbied Dierehandel, is daar van 2015 tot 2019 minstens 5 035 diere, onder meer leeus, jagluiperds, sjimpansees en renosters uit Suid-Afrika na China uitgevoer.

Suid-Afrika is die grootste uitvoerder van “wettige” jagluiperds ter wêreld.

Volgens die verslag is vragmotorkapings een van die mees georganiseerde misdade in die land.

Nog ’n goed georganiseerde netwerk misdadigers is dié wat brandstof steel. Van 2019 tot verlede jaar is 20,5 miljoen liter brandstof uit Transnet se 3 800 km pypleiding gesteel. Die waarde hiervan word op sowat R250 miljoen geraam.

Misdaadsindikate wat infrastruktuur soos koperkabels teiken, kos die land miljarde en ontwrig die ekonomie. Luidens die verslag het Eskom in 2019-’20 R71 miljoen bestee om gesteelde koperkabels te vervang. Telkom het in die huidige finansiële jaar R1,6 miljard begroot vir veiligheidsdienste om onder meer kabeldiefstal te keer.

Vodacom het in 2019 bekend gemaak dat 1 500 tot 2 000 batterye maandeliks by sy selfoontorings gesteel word.

Die taxibedryf het sy tentakels in die meeste van die georganiseerde misdaadsektore en is verantwoordelik vir die meeste sluipmoorde in die land.

Mark Shaw, direkteur van GI-TOC, skryf die misdaad-ramp kan oorkom word “met die regte leierskap, langtermynstrategieë, herkalibrering van stelsels en instellings wat misdaad beveg en genoegsame hulpbronne.”

Pieter Steyn, Rapport

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article