Suid-Afrika is nou die 40ste gevaarlikste land ter wêreld.
Volgens die 2020-verslag van die Global Peace Index (GPI) is Suid-Afrika 123ste van die 163 lande op die ranglys van vreedsaamste lande, met die land in die eerste plek wat die meeste vrede ervaar.
Verlede jaar het dié land die 127ste plek beklee.
Die GPI-verslag monitor die vrede in 163 onafhanklike state en gebiede oor die wêreld heen en dui aan waar konflik toeneem of afneem.
Kwessies soos veiligheid in Suid-Afrika is in ag geneem toe die plek op die ranglys toegeken is.
Die land vaar veral swak waar dit by die moordsyfer kom.
Suid-Afrika se moordsyfer is die sesde hoogste ter wêreld en die tweede hoogste in Afrika suid van die Sahara. Die gemiddelde moordsyfer in Afrika suid van die Sahara is 9,1 per 100 000, teenoor die moordsyfer in Suid-Afrika wat 35,9 is. Dit is byna vier keer hoër as die streek se gemiddeld.
Suid-Afrika het ook ’n hoë werkloosheidsyfer (27%), maar vaar goed wanneer dit kom by belasting, internasionale handel en lae uitstaande skuld van die sentrale regering.
– Canny Maphanga, News24

