Saterdag 17 Mei ontmoet die Suzuki Griekwas en die Toyota Cheetahs mekaar weer op die Poubloues se tuisveld in Kimberley vir die halfeindstryd van die SA Beker-reeks.
Die afgelope Saterdag het die Griekwas die Cheetahs met 31 – 29 geklop.
Ná die eerste helfte was die puntetelling 10 – 7 in die Cheetahs se guns. Hoewel die eerste helfte heelwat aksie en ‘n gesnak na asem verskaf het, was die tweede helfte ‘n naelbyt-episode.
Die twee drieë wat Cameron Hufke en Bobby Alexander, onderskeidelik heelagter en plaasvervanger-skrumskakel, laat in die wedstryd gedruk het, is veral noemenswaardig. Drieë is deur Dylan Maart, Zane Bester, Gurshwin Wehr, Hufke en Alexander gedruk, terwyl George Whitehead doelskoppe aangeteken het.

Die Griekwas – verlede jaar se wenners van die SA Beker-reeks – is tweede op die punteleer met 42 punte, en die Cheetahs derde met 34 punte. Bo-aan die leer is die Pumas met 45, en vierde is die Boland Kavaliers met 32.
Die Pumas en Kavaliers pak mekaar op Vrydag 16 Mei om 19:00 in die Mbombela-stadion in Nelspruit.
Ná Saterdag se kragmeting om 15:00 tussen die Griekwas en die Cheetahs sal dit bekend wees watter van dié spanne mekaar in die eindstryd op 24 Mei gaan pak.
Besoek die Griekwas op Facebook vir meer inligting.
Vrouerugby: Streekstoernooi Saterdag by Suzuki-stadion
Voor Saterdag se kragmeting vind ‘n vroue-streeksrugbytoernooi op die stadion plaas. Dit word deur die Frances Baard-rugbystreek aangebied. Dié toernooi vind by die Suzuki-stadion plaas nadat dit aanvanklik by die Kimberley-rugbyklub sou plaasvind. Die hekke maak reeds om 08:00 oop.
Laurian Johannes-Haupt, SA Rugby se eerste heeltydse vroue-afrigter, sal by die toernooi teenwoordig wees. Verskeie spanne ding mee vir die titel van 2025 se Griekwas-streekskampioen.

You must be logged in to post a comment.