Jessi Wessels, ’n saalperdruiter van Upington, gaan eersdaags in New Orleans aan ’n ruiterkunskompetisie deelneem.
Sy gaan van Woensdag 26 Junie tot Saterdag 6 Julie die Noord-Kaap se naam in die VSA hoog hou.
Jessi, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Upington, het in April vanjaar aan die Suid-Afrikaanse saalperd-kampioenskappe op die Bloemskou in Bloemfontein deelgeneem.
Hier het sy aan die kampioen van kampioene-ruiterkunskompetisie in die driegang- en vyfgang-afdeling deelgeneem.
Die reën tydens die kompetisie in Bloemfontein het groot spanning in die uitdunrondes veroorsaak.
Weens die reën moes die formaat van die kompetisie aangepas word.
Nadat Jessi en die ander ruiters almal die slegte weer trotseer het, het sy tot eindronde agt in die driegang en vyfgang deurgedring.
Jessi het ook aan die driegang-ryperd-ruiterkuns, klas 16 jaar en onder, deelgeneem en was vierde.
Jessi en haar perde word deur Martin L. Pienaar van die Dream Acres Equestrian Centre in Bloemfontein afgerig.
Jessi het haar junior Protea-vyfgangkleure op Maandag, 22 April, op ’n dinee by die skou ontvang.
Narike Hoft, ook van die Hoërskool Upington, het in die klas 14 jaar en onder in driegang die agtste plek behaal. In die klas vir 14 jaar en onder het Narike die vierde plek in driegang-ruiterkuns behaal.