Deelname as lid van die Protea-driegangruiterkunsspan vir juniors in Kentucky, Amerika, is volgende op Narike Hoft van Upington se doenlysie.
Narike, ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Upington, sal van 21 tot 31 Julie op dié byeenkoms meeding.
Sy het aan die einde van April op die opelug-saalperdbyeenkoms in Bloemfontein uitgeblink.
In die vyfgang-afdeling het sy met Wim van Bergen se nuweling, Double Dose, haar verskyning in die arena gemaak. Sy het nog net een keer vantevore op dié perd gery.
Narike het met ’n goeie plasing vir die nasionale vyfgangryperdbyeenkoms vir juniors gekwalifiseer, waar sy en Double Dose die agtste plek behaal het.
Op die rug van haar driegangperd, Fever Pitch, het sy aan die kampioen van kampioene-afdeling deelgeneem.
Ondanks ’n uitstekende vertoning in die o.18-driegangruiterkuns-afdeling moes hulle die baan verlaat toe Fever Pitch ’n hoefyster verloor.
Narike word deur Martin Pienaar van Dream Acres Equestrian Centre in Bloemfontein afgerig, en hul visier is nou op deelname in Amerika gerig.


