Henrik Muller kén sy reëls. Foto: Erena Oberholzer


Henrik Muller

Henrik Muller kén sy reëls. Foto: Erena Oberholzer

Daar is min 50-jariges wat saam met tienerseuns op ’n rugbyveld kan hardloop en dan kan byhou.

Henrik Muller, ’n skeidsregter van Kathu, is altyd net ’n paar meter agter die bal, selfs wanneer daar afgeskop word.

Dié boorling van Ceres se liefde vir rugby het as speler begin, toe hy as sub. B-leerling vir die eerste keer kennis met die leerbal gemaak het.

Dié veiligheidsbeampte van CC Steelworks in Kathu sê rugby was van vroeg af reeds in sy bloed. Hy kon smiddae ná skool nie vinnig genoeg klaar eet en sy huiswerk doen nie, om dan op die oop stuk veld tot skemeraand sy rugbyvaardighede te gaan slyp.

Die hoogtepunt van sy rugbyloopbaan was tydens sy militêre opleiding toe hy as rekruut skrumskakel was in die Garnisoen­span wat uit die 3 SAKK-eenhede bestaan het.

In 2000, tydens ’n vriendskaplike wedstryd, het hy sy enkel gebreek en sy loopbaan as speler het toe tot ’n einde gekom, maar nie sy passie vir die sport nie.

Hy het as rugby-administrateur weer by die spel betrokke geraak en op die ouderdom van 36 het sy loopbaan as skeidsregter begin.

Muller blaas tans die fluitjie in die Van Druten-rugbyreeks, verskeie laerskool- en hoërskoolligas, asook klubrugby.

Henrik Muller

Henrik Muller op die veld as ’n passievolle skeidsregter. Foto: Erena Oberholzer

Sy vrou, Lydia (47), ’n skoonheidsterapeut, woon steeds elke wedstryd by en ondersteun hom in sy passie.

Sy gunsteling-skeidsregter is Nigel Owens, internasionale skeidsregter van Wallis, want hy geniet sy rugby, hy laat die spel vloei en gee die spelers die geleentheid om hulself op die veld te geniet, meen Muller.

Hy sê omdat hy self rugby gespeel het, weet hy watter groot invloed ’n skeidsregter op die veld het.

Tellings en luidrugtige skares skrik hom glad nie af nie. Hy steur hom ook nooit aan watter spanne kragte meet nie.

“Ek wil net my beste gee vir daardie 30 manne op die veld, sodat hulle rugby geniet,” sê hy.

Oudspelers het baie om terug te ploeg in hul gemeenskap, meen hy. Sy hart is seer omdat, veral op klubvlak, rugby besig is om dood te bloei, sê Muller.

Sy boodskap aan jong seuns is: “Wees passievol oor rugby, wees toegewyd en geniet elke oomblik op die rugbyveld.

“Rugby is ’n spanding, ’n familieding en ’n lekker ding.”

You need to be Logged In to leave a comment.