Die Hoërskool Kalahari in Kuruman se Hansie Fourie (18) se groot droom is om eendag internasionale rugby te speel en ’n rugbylegende te word.
Hansie sê hy wil eendag in die legendariese Springbok-slot Bakkies Botha se voetspore volg.
“Bakkies is my rolmodel omdat hy ’n ongelooflike goeie slot was. Hy was ’n hardwerkende en toegewyde speler.”
Hansie se rugbyloopbaan het in Vryburg by ’n voorskoolse bulletjie-rugbyspan begin.
Aan die Laerskool Soedin in Kuruman het hy sedert gr. 1 ’n passie vir rugby asook die vaardighede van die spel ontwikkel.
Oor die jare het hy aan verskeie rugbyproewe deelgeneem en is vir talle rugbytoernooie gekies.
Op laerskool het hy vir sy skool se eerste rugbyspan gespeel.
Hy het die posisie van losskakel en heelagter in sy kaalvoet laerskoolrugbydae gevul.
Met sy aankoms in die hoërskool was sy lengte perfek vir die slotposisie.
Hansie het as o.15-rugbyspeler die John Taolo Gaetsewe-streek (JTG) begin verteenwoordig.
Hy het ook vir die Van Druten-streekspan en die Griekwa-akademiespan uitgedraf.
Sedert 2018 speel hy vir Kalahari se eerste rugbyspan.
Verlede jaar is hy hier as beste rugbyspeler aangewys.
In sy vrye tyd speel Hansie gholf en jag ook graag.
Wanneer die rugbyseisoen tot ’n einde kom, neem hy deel aan
Hy sê indien hy nie eendag ’n rugbylegende word nie, is sy volgende keuse om ’n professionele jagter te word.
Om in die buiteland te gaan werk, word ook nie uitgesluit nie.
Hy sê hy wil sy ouers trots maak omdat hulle hom altyd ondersteun en nooit sy rugbywedstryde mis nie.
Hansie is die seun van Johnny en Mariaan Fourie.