“Hou jou f****n bek of ek maak die kinders dood. Jy sal vandag nie vergeet nie.”

Dit het ’n rower Donderdagmiddag (28/04) ’n angsbevange nasorgjuffrou van Upington toegesnou toe hy haar, haar 11-jarige dogter en ’n leerling met ’n mes gedreig het.

Tanya van der Westhuizen, ’n enkelouer, bedryf die nasorgsentrum in haar huis in Florapark.

Sy het omstreeks 13:30 ’n pak vullissakke, wat maandeliks deur die munisipaliteit afgelewer word, op die grasperk gaan haal.

Toe sy omdraai om die veiligheidshek te sluit nadat sy die pakkie neergesit het, het ’n man langs haar gestaan. Hy was glo ook vroeër by die huis en het ’n telefoonnommer gevra. Sy het hom toe weggewys.

Die man het op haar geskreeu om stil te bly. In ’n stadium het die man gesê hy is nie “ ’n slegte ou” nie.

“Ek weet nie hoe die kinders kopgehou het nie. Hulle het hom gepaai en gesê: ‘Jy is ’n goeie mens. Jy gaan ons mos nie seermaak nie?’ ”

Die man het die meisies in die badkamer toegesluit en selfone geëis.

Van der Westhuizen het ’n selfoon aan haar lyf versteek, maar dit later in die badkamer se vullisdrom gegooi. Die man het haar na die slaapkamer gedwing.

“Hy wou my verkrag. Al waaraan ek kon dink, is om te sê ek het ’n nood. Ek moet badkamer toe gaan.”

Die man het haar na die badkamer geneem, waar die meisies hande vasgehou en gebid het.

Hy het vir haar geskree: “Vandag sal jy vir Andrew Jacobs leer ken.”

Die aanvaller het egter later opgegee en kos, selfone, kontant en motorsleutels gevat en gevlug. Sy het die selfoon uit die vullisdrom gaan haal en hulp ontbied. ’n Ouer, die buurtwag en die blitspatrollie was vinnig op die toneel.

Van der Westhuizen sê sy is steeds vreesbevange. Die twee meisies is reeds vir berading geneem.

Teen druktyd het die polisie nog nie op navrae oor die voorval reageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article