Die room van Atletiek Griekwaland-Wes (AGW) se talent is Woensdagaand (05/12) op die jaarlikse AGW-toekenningsdinee by die Horseshoe Inn in Kimberley vereer.
Baan en veld:
- Benu Meintjes, ’n 400 m-atleet van die Hoërskool Diamantveld wat vanjaar ’n bronsmedalje in die 400 m vir seuns o.20 op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se nasionale baan- en veldjeugbyeenkoms gewen het, is as die beste junior baan- en veldatleet gekroon.
- Stiaan le Roux, die Hoërskool Diamantveld se hamergooi-koning, wat vanjaar ’n bronsmedalje op AGW se nasionale baan- en veldjeugbyeenkoms gewen het, is as die jeug baan- en veldatleet aangewys.
Landloop:
Joané Ollewagen (Laerskool Black Rock), Rivano Booyse (Laerskool Philipsvale), Mia Ekkerd (Laerskool Seodin) en Maricelle Kruger (Hoërskool Diamantveld) het almal eerbewyse vir landloop ontvang.
- Rivano Booyse, ’n leerling aan die Laerskool Philipsvale, is as AGW se beste manlike laerskool-landloopatleet aangewys.
Hy het vanjaar in ASA se nasionale landloopkampioenskap ’n sewende plek in sy ouderdomsgroep behaal. Rivano het ook erekleure ontvang aangesien hy in die top-25% in sy ouderdomsgroep geëindig het.
- Maricelle Krüger, ’n langasem van die Hoërskool Diamantveld, is as AGW se beste hoërskool-landloopatleet gekroon.
Sy het vanjaar in ASA se nasionale landloopkampioenskap algeheel 27ste in haar ouderdomsgroep geëindig en ook erekleure ontvang omdat sy in die beste 25% van haar ouderdomsgroep geëindig het.
Sy het ook ’n sertifikaat ontvang nadat sy vanjaar die 800 m-rekord vir meisies o.15 na 2:20:13 verbeter het en ’n ander sertifikaat nadat sy die 1 500 m-rekord vir meisies o.15 na 4:57:70 verbeter het.
- Mia Ekkerd, ’n landloopatleet van die Laerskool Seodin, het ’n sertifikaat ontvang nadat sy vanjaar die AGW-landlooprekord vir die 3 km-wedloop vir meisies o.11 na 12:09 verbeter het.
- Joané Ollewagen van die Laerskool Black Rock is as die nuweling van die jaar aangewys nadat sy vanjaar in ASA se nasionale landloopkampioenskap ’n vyfde plek in haar ouderdomskategorie behaal het.
Padwedlope:
- Chantal de Beer en Arthur Nziweni, albei atlete van Vodacom Kimberley Road Runners, is onderskeidelik as AGW se beste vroue- en mansatleet aangewys. Arthur en Chantal het albei AGW in ASA se halfmarathonkampioenskap in Port Elizabeth verteenwoordig en geskitter.
Erekleure:
Theo Senekal Jr. het erekleure ontvang vir sy prestasies in hoogspring.