“Mag Roodepan, veral wyk 1 Nooit wee minag word nie.”
Só skryf Eric Kok, bekende skrywer, dramaturg en filmmaker van Roodepan op sy Facebook-blad nadat die Patriotic Alliance (PA) die ANC op Woensdag 11 Oktober in die tussenverkiesing in Kimberley se wyk 1 (dele van Roodepan en Platfontein) uit die kussings gelig het.
Daarmee het die ANC sy meerderheid van een setel in die Sol Plaatje-munisipaliteit verloor en moet hy soos meesal gebeur, op die steun van twee Good proporsionele verteenwoordiger (PR)-raadslede staatmaak as hy sy stem in die raad wil laat geld.
Die PA het 53%, die ANC 34% en die DA 7% behaal.
Die DA se logo en naam was steeds op die stembrief, al het hulle nie ’n kandidaat gehad nie. Die grootste steun vir die PA was in Roodepan, en vir die ANC in Platfontein.
Groot onstuimigheid het vroeër geheers toe die ANC-wyksraadlid wat in ’n tussenverkiesing in Februarie verkies is, na die PA oorgeloop het wat die jongste tussenverkiesing afgedwing het. Die DA is as deelnemende party uitgeskakel nadat sy kandidaat op die registrasie-spertyd na die PA oorgeloop het.
Die PA is uit verskeie oorde, wat ook die EFF insluit, van knoeiery beskuldig en dat die rassekaart gebruik word. Die PA het teruggekap en gesê hy het voortdurend in die wyk bly werk en inwoners bygestaan om dienslewering te verbeter.
Op die stemdag het etlike Roodepan-inwoners aan NoordkaapBulletin gesê hulle is moeg van die ANC se “arrogansie”. Ander het weer gesê hulle sien die DA so min dat hulle “vergeet het hulle is lede.”
‘Al wat sy sê ons sal môre kom’
Linda Peters bly al 23 jaar in die afgeleefde Roodepan-woonstelle. “Tóé al was dit al so flenters,” sê sy.
“In dié tydperk het net ’n voormalige DA-raadslid my gehelp toe die watertoevoerpyp in die muur gebars het. Ek was halfpad in die water in. Sy het uit haar hospitaalbed werkers laat kom. Hulle het van agteraf so ’n gat in die mure gemaak, met daai goeters so ge-patch en die gat net so gelos. Toe stop die water. Van toe af moet ek council of civic toe gaan om hulp te soek. Dan sê hulle hulle kom.”
Die badkraan kan nie toemaak nie en die water stroom dag en nag daaruit. Geen ander kraan in die woonstel werk nie.
“Ons moet by die bad water skep om die toilet te spoel, skottelgoed te was en vir die wasmasjien. Die badketel werk al jare nie en ons moet ketel kook vir warm water.
“Ek het die ANC-vrou baie kere vir hulp gevra. Al wat sy sê ons sal môre kom. Môre, môre, môre. Selfs die munisipale amptenaar wat ons moet help, doen min.”
Wanneer Peters “sente het”, doen sy self herstelwerk. Die leunende opwasbak is teruggebou, stopverf in gapende deurpanele gestop, mure geverf en ’n teëlvloer ingesit.
“Ek sit die wasmasjien en settee elke nag teen die voordeur. Hier loop mannetjies in die nag wat ’n mens kan seermaak.
Sy, soos ander inwoners, sê dit is tyd dat die leisels aan iemand anders oorgegee word. “Dan kan ons kan sien wat daai party doen.”
Sy sê die ANC vertel hulle, die party sal regeer tot die Here kom. “Hulle voel hulle is in charge, niemand sal hulle onder kry nie. As jy hulle kospakkie vat, moet jy doen wat hulle sê. Ons is moeg vir skelmgeit.”
‘Niemand gee om vir die flatse nie’
In Roodepan oorleef mense op “grants, project werk of skroppies”. Werkloosheid gedy, jong mans rook okkapyp, kinders speel met stukkies rommel op oop stukke bruin grond.
’n Jong vrou wie se droom dit is om by die departement van korrektiewe dienste te werk, het ná agt aansoeke tou opgegooi. Adam Swartz, in sy vroeë twintigs, sê hy het hoop verloor om ooit ’n permanente werk te kry en ’n ordentlike lewe te lei.
“Almal is korrup, niemand gee om vir die flatse nie. Al die politieke partye is eintlik dieselfde, al beledig hulle mekaar. Ewe korrup en niemand gee om nie.”
Buitekant die woonstel bars die beton uit die gebouekompleks weens lekkende waterpype in die struktuur. ’n Hoop swart sakke lê in die middel van ’n oop stuk grond langs ’n gebrande hoop vullis.
Drinkwater uit Peters se badkraan stroom in die drein af, langs die gapende gat in die muur wat nooit herstel is nie
’n Afwagtende stilte heers. Stof warrel teen die bruin woonstelgeboue, op teen die kleurlose lug, terwyl politieke partye se musiek vanuit hul kleurvolle tente doef-doef-doef.
“Só is dit maar,” sug Peters gelate.


