Op die première van Eric Kok se rolprent Liesbet in Roodepan, Kimberley, kon akteurs saam met die rolprentspan en die gehoor op die rooiste rooi tapyt pronk. Want dit is Roodepan se storie.
Kok, skrywer en regisseur, beoog om ’n bekendstellingstoer te reël.
Liesbet spog met talentvolle inwoners van Roodepan wat hul lyf die eerste keer ooit akteur gehou het. Dié rolprent is in 2021 oor twee maande en ’n week verfilm, te midde van kwessies soos ’n betoging, reën wat die stel beskadig het, beurtkrag en onderbrekings in watertoevoer.
Die storie handel oor Liesbet wat agter in iemand se werf in ’n klein huisie bly in ’n poging om geld te spaar. Haar groot droom is om eendag haar eie huis te besit.
Op ’n dag daag haar dwelmverslaafde dogter op om haar seun, Liesbet se kleinseun, te kom haal. Dan moet Liesbet tussen haar droom en haar liefde vir haar gesin kies.
Die hoofrol van Liesbet word deur Magdalena Isaacs vertolk.
“Ek het dadelik geweet sy sal die rol reg vertolk,” sê Kok.
“Ook Frans Kwantini, wat die rol van oom Adam vertolk. Ek het sy eie sêgoed in die teks verwerk, want niemand kan dit soos hy sê nie.”
Die première sou eers in die Noord-Kaapse teater in die stad gehou word, maar weens ’n burokratiese rompslomp is die geleentheid in die Die AGS-kerk Roepersfontein se saal aangebied.
Kok en sy span het vooraf geldinsamelings gehou om die materiaal te koop om die rolprentskerm te maak. Die 140 kaartjies is teen R100 elk verkoop, en ’n ete is bedien.
“Ek het buite en in die kombuis geloop, my senuwees was op. My suster het binne gesit en die gehoor dopgehou. Gelukkig het hulle op die regte oomblikke gehuil en gelag. Teen die einde was ek in die saal. Dit was doodstil toe die erkenningslys rol. Ek het nie geweet wat om te dink nie. Toe breek die applous uit. ’n Vriend en my suster het my aan die hand geneem en na voor gelei, waar ek toe my toespraak gelewer en bedankings gedoen het.”
Die draaiboek is reeds in 2018 geskryf. Kok het in 2019 en 2020 by die Noord-Kaapse departemente van sport, kuns en kultuur en finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme vir finansiering aansoek gedoen.
“Dit was doodloopstrate. Toe gee die nasionale rolprent-en-videostigting ’n beurs en ons kon begin verfilm. Die geld was nie genoeg om die akteurs en span te vergoed nie, daarom het ek van my eie geld ook ingestoot.”
Liesbet is voorheen as ’n episodiese verhaal op Facebook geplaas.
“Ek het daarom die einde aangepas, want almal in Roodepan het geweet wat die einde is.”
Intussen maak hy kort dokumentêre rolprente oor ’n reeks maatskaplike onderwerpe vir die televisieprogram iKasi Voices. Die nie-winsgewende organisasie iKasi Media maak dokumentêre programme vir Cape Town TV.
Boonop doen Kok navorsing oor die gevandaliseerde veeldoelige sentrum in Roodepan.
“Dit is seker net meer as 20 jaar oud. Dit het tien jaar lank goed gewerk, totdat amptenare dit vir eie gewin gebruik het. Die gemeenskap het belangstelling verloor en dit begin vandaliseer. Indien amptenare en gemeenskapslede saam werk om die sentrum op verantwoordelike wyse te bestuur, kan dit deug. Opleidingsessies moet aangebied word, asook kulturele aktiwiteite. Dit moet ’n volhoubare projek wees, nie net ’n eenmalige fotogeleentheid vir die burgemeester nie.”
Kok beskou homself as ’n storieverteller.
“Ek is gek oor wat ek doen. Destyds, toe ek in ’n kantoor tussen vier mure gewerk het, het ek mal geword. Soggens sien ek hoe die dag breek en hoor hoe die voëltjies wakker word. Dan voel ek gelukkig in my Roodepan.”
- Belangstellendes kan die Facebook-blad Liesbet Film besoek om nog inligting te verkry.


