’n Vullisverwyderingsdiens wat onlangs in Bloemhof begin is, het binne die eerste week 20 ton vullis verwyder.

Dié projek deur AfriForum se Bloemhof-tak kom in reaksie op verskeie klagtes rakende die Lekwa-Teemane-munisipaliteit se swak dienslewering.

Vullisverwydering in dié dorp is maande laas volgens beplanning gedoen, en sekere ondernemings se vullis word glad nie eens verwyder nie.

Die situasie het onuithoudbaar geword, waarna die tak besluit het om in te gryp.

In die eerste week van dienslewering is vier ton huishoudelike afval en nagenoeg 16 ton tuinvullis verwyder.

Die tak het ook ’n opruiming in die dorp se hoofstraat begin, en die projek sal deurlopend aangepak word om die netheid van dié besige deel van die dorp te help verseker.

“Vullisverwydering in Bloemhof is die eerste stap na selfbestuur,” verduidelik Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

“Ons kan nie langer toekyk hoe munisipaliteite week ná week misluk om dienste te lewer waarvoor hulle betaal word nie.

“Dit het tyd geword om self skouer aan die wiel sit en dienste te lewer om ons dorpe skoon en netjies te maak.”

“In Bloemhof sal ons nie meer net toekyk hoe die verval voortduur en selfs meer skade aanrig nie. Ons sal voortgaan om op te bou en in die belang van die gemeenskap nog selfdoenaksies aanpak,” verduidelik hy.

Die tak nooi inwoners van Bloemhof om van dié vullisverwyderingsdiens gebruik te maak. Besoek vullisverwydering.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article