Tydens ’n geselligheid vir vroue vertel ’n voormalige Mej. Wêreld, wat ook die Mej. Suid-Afrika-kroon gedra het, hoe elke vrou ’n unieke kroon het om te dra.
Die tema van Rolene Strauss se praatjie op dié geselligheid op Saterdag 5 Oktober by die NG kerk Bakenskop is “Dra jou goddelike kroon”.
Strauss, wat in 2014 die kroon as Mej. Wêreld én Mej. Suid-Afrika gedra het, is behalwe ’n eggenote vir haar man, Daniel, ook die ma van drie seuns, lewensafrigter, motiveringspreker, entrepreneur en skrywer.
Sy is boonop ’n gekwalifiseerde dokter met ’n meestersgraad in filosofie en bestuursafrigting.
Haar passie is om haar lewensondervinding en agtergrond met die talle rolle wat sy vertolk te gebruik om vroue te help om beheer van hul lewe te neem en die kroon te dra wat God op elkeen geplaas het.
Ds. Arina Zandberg van die NG kerk Bakenskop vertel dat Strauss vanjaar as spreker genooi is om haar besielende boodskap hieroor oor te dra. Zandberg sê dit is so algemeen dat vroue voel hulle is net nie goed genoeg nie; dat hulle sukkel met selfvertroue. Ná die geselligheid waar gaste saam gekuier en gelag het in ’n atmosfeer spesiaal vir hulle geskep, kan hulle besield en spesiaal voel, sê sy.

In ’n onderhoud ’n paar jaar gelede met Murray La Vita van Netwerk24, het Strauss vertel dat sy uit eerstehandse ondervinding met vroue kan praat wat elke dag met selfvertroue sukkel, omdat sy dit self op groot skaal ervaar het.
Zandberg sê dit is die vierde jaar dat die gemeente ’n geselligheid vir vroue in dié formaat aanbied.
Sy is trots op en dankbaar vir die skeppende vroue wat dit jaarliks organiseer.
“Die fokus is ook op die lekker samesyn in geloof,” sê sy.
Boonop is dit vir hulle belangrik dat die ruimte waarin dit aangebied word, bekoorlik moet lyk en elkeen spesiaal laat voel.
Tydens die geselligheid sal verskeie stalletjies unieke produkte te koop aanbied, en ’n ligte ete word bedien.
Die verrigtinge begin om 09:30 by die kerkterrein in Carters Glen, Kimberley,
Kaartjies kos R300 per persoon. Skakel 082-721-3172 om te bespreek.
- NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg.


