Zvonimir Navala met sy boek oor Kroatiese betrokkenheid in die Anglo-Boereoorlog.

Foto: Charné Kemp

’n Verloopte Kroaat wat in die vroeë 1990’s tydens die oorlog in die voormalige Joegoslawië na Suid-Afrika uitgewyk en in 2013 na Amerika verhuis het, het pas sy boek oor Kroate wat aan boerekant in die Anglo Boere-oorlog (ABO) geveg het, in Suid-Afrika bekend gestel.

Zvonimir Navala (77) se boek, Croats in the Anglo-Boer War South Africa 1899-1902 is deur prof. Fransjohan Pretorius, ABO-kenner, geproeflees.

Zvonimir Navala met sy boek oor Kroatiese betrokkenheid in die Anglo-Boereoorlog.

Navala is nou besig met navorsing in Barberton, Pretoria, Kimberley en Kaapstad vir ’n tweede boek – oor Amerikaners wat in die ABO betrokke was. Sy derde boek sal handel oor Kroate in die dae van die Wilde Weste van Amerika.

Hy het sy boek in Amerika laat druk en eksemplare saamgebring wat hy aan vriende en navorsers uitdeel tydens ’n toer in Suid-Afrika waarmee hy navorsing vir sy volgende projekte doen.

“Ek het ’n gedeelte in ’n eerste eksemplaar in 2019 bekendgestel, maar aanhou werk daaraan. Dit lyk of die voltooide boek deur ’n uitgewer in Kroasië met regerings­ondersteuning verkoop gaan word.”

Hy het sy manuskrip in Kroaties geskryf, wat in Zagreb deur ’n taalkenner in Engels vertaal is.

“Die Suid-Afrikaanse geskiedenis en lot van die Kroatiese gemeenskap in die ABO het my fassineer. Baie Kroate was groenteboere in Pretoria of het op die goudmyne van Johannesburg gewerk toe die oorlog uitgebreek het. Sowat 130 wat deur die Britse magte gevange geneem is, is na Kroasië deporteer. Die oorlog het die Kroatiese gemeenskap in Suid-Afrika vernietig.”
Zvonimir Navala

Hy glimlag wanneer hy vertel sy eie huis in Kroasië is tydens die oorlog in Joegoslawië vernietig.

“Die murasie het net soos ’n afgebrande plaasopstal uit die ABO gelyk. Ek en my gesin moes van voor af in Suid-Afrika ’n bestaan maak. Suid-Afrika was baie goed vir my.”

Hy het ’n besigheid in Johannesburg gehad wat mynmasjinerie vervaardig en opgeknap het.

“Die navorsing vir die boek het my sowat ses jaar geneem. Ek is gek oor die geskiedenis van oorloë. Suid-Afrikaanse geskiedenis is fassinerend. In ’n tydperk van 60 jaar is diamante en goud byvoorbeeld ontdek en het oorloë vir onafhanklikheid gebeur.”

Ooreenkomste gevind
Hy meen daar is ooreenkomste in die geskiedenis van noord-Amerikaners en die Boere. Albei is deur plaaslike bevolkings aangeval, het pionierslewe gelei en laers getrek, met vee geboer, en meer.

“Die grootse aantal perde vir die ABO is van Amerika na Suid-Afrika gebring, natuurlik vir die Britse owerhede se gebruik.”

Interessante Amerikaanse persoonlikhede word in sy nuwe boek vervat.

“Daar was John Hayes Hammond (1855-1936). Hy was ’n Amerikaanse myningenieur, diplomaat en filantroop wat op 40-jarige ouderdom reeds skatryk was. Hy het onder­grondse mynbou help ontwikkel, en Cecil Rhodes se myne help bestuur.

“Hammond was een van die beplanners van die Jameson-inval van 1895. Dit was ’n fiasko en Hammond is saam met ander leiers arresteer en ter dood veroordeel. Uiteindelik is hulle net beboet en het hy na Amerika teruggekeer.

“Later het hy myne in Meksiko en Kalifornië ontwikkel en in 1923 het hy nog ’n fortuin gemaak terwyl hy vir olie by die Burnham Exploration Company geboor het.

“Ek het baie interessante misdadigers en diamantdiewe in Suid-Afrika opgespoor. Een van hulle is Adam Worth, wat destyds vriende met ’n posmeester in die Kaap gemaak het. Op dié manier het hy ’n afdruk van ’n kluissleutel gemaak en met die diamante wat per skip gepos moes word, weggekom. Van hier is hy na Australië en Europa.”

You need to be Logged In to leave a comment.