Roetes sit ‘r’ in risiko

Slaggate op die besige Vrystaatse en Noord-Kaapse R48- en R389-roete tussen Koffiefontein en Luckhoff, asook van Petrusville via Philipstown na Hanover, wat nie herstel word nie, laat motoriste vir hul lewe vrees.


Markstraat in Hopetown voordat die gemeenskap daaraan gewerk het.

Slaggate op die besige Vrystaatse en Noord-Kaapse R48- en R389-roete tussen Koffiefontein en Luckhoff, asook van Petrusville via Philipstown na Hanover, wat nie herstel word nie, laat motoriste vir hul lewe vrees.

Een vragmotorbestuurder sê: “Jy kan nie enige R-roete in die omgewing ry nie, want dan is jy in jou m**r. Dit is lewensgevaarlik.”

Gideon Steenkamp is ’n koerier wat sigarette van groothandelaars in Bloemfontein na kafees in dorpe soos Koffiefontein, Luckhoff, Vanderkloof en elders vervoer.

“Ek vrees vir my lewe elke keer wanneer ek daar ry. Die slaggate is verskriklik diep en oral op die pad. Motoriste moet die heeltyd vir mekaar uitswaai om ongelukke te voorkom. Jy is genoodsaak om stadig te ry, maar dan jaag vragmotors teen ’n spoed verby jou, deur die slaggate. Stof en klippe skiet op. Ek ys elke keer wanneer dit gebeur. Ek probeer om baie mooi na die maatskappyvoertuig te kyk, wat al 700 000 km op die klok het. Dit het onuithoudbaar geword.”

Paul van Niekerk, ’n VF Plus-raadslid van die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown, boer, en vervoerkontrakteur, sê hy raai mense aan om nooit in die nag die R389-pad tussen Petrusville en Hanover te ry nie.

“Daar is te veel slaggate en die skouers is weggetrap. Selfs in die dag is dit gevaarlik, veral wanneer dit reën – omdat jy nie slaggate kan raaksien nie.

“Die ertsvragmotors het die pad suf gery. Nou ry hulle die N12- en N10-roete via De Aar om by hawens te kom. Daardie paaie is in ’n gevaarlike toestand.

“Die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke het aangebied om teer te verskaf sodat boere die pad tussen Petrusville en Hanover kan herstel, maar dan wil hulle hê ons moet ook die risiko van padveilig­heid oorneem, wat ons natuurlik weier. Dit is nie boere se werk om paaie te herstel en padveiligheid te verseker nie.”

Intussen het die mildelike reën die slaggate laat gedy.

“Die slaggate is op plekke so diep dat my lorrie se modderskerms teen die teer slaan wanneer ek daardeur ry. Dit lyk net asof daar geen geld is om paaie te herstel nie.”

Intussen het die Hopetown-gemeenskapforum, waarvan Van Niekerk die voorsitter is, die afgelope drie weke R130 000 bestee om Markstraat oor te teer omdat dit onbegaanbaar was.

“Dit help nie om slaggate net te herstel nie, die hele gedeelte van 160 m is oorgeteer. Ons gaan dieselfde met gedeeltes van Du Toit- en Erasmustraat doen. Die raad het ook ’n begroting goedgekeur om paaie te herstel. Ander strate in die dorp is so erg beskadig dat dit beter is om die bietjie teer weg te skraap en dit grondpaaie te maak.”

Hillary Mophethe, woordvoerder vir die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer, sê die departement probeer voortdurend om paaie in stand te hou.

“Ons het beperkte hulpbronne, en verkeersvolumes groei aanhoudend weens vragmotors wat erts van Noordwes en die Noord-Kaap na die hawens in Gqeberha vervoer. Die pad word nouer omdat die skouers wegbrokkel.

“Die departement het ’n tender adverteer vir ’n kontrakteur om die padgedeelte tussen Koffiefontein en die Havenga-brug te vervang. Die verkrygingsproses is in ’n gevorderde stadium omdat die bodproses in November gesluit het en die tender nou geëvalueer word. Die aanwys van ’n kontrakteur geniet voorrang, en dié sal in April begin werk. Die departement sal die brug nagaan vir skade.”

Crystal Robertson, woordvoerder vir die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke, sê in ’n verklaring hulle het ’n paar werkspanne saamgestel wat middel Maart met onderhoudwerk begin.

Die R48-pad tussen Vanderkloof en Luckhoff.

Markstraat in Hopetown nadat die Hopetown-gemeenskapforum dit herstel het.

You need to be Logged In to leave a comment.