Reisigers tussen Kimberley en Griekwastad wonder telkens oor die “rob-klip”, wat ongeveer 50 km van Kimberley af langs die pad staangemaak is.
Op die Facebook-blad Ek reis deur my pragtige land vra Hans Haggard op 9 Junie inligting oor die klip en of iemand dalk die geskiedenis hiervan ken.
Uit kommentare wat geplaas is, is dit duidelik dat talle stories oor die klip bestaan, soos dat dit ’n geografiese middelpunt van belang is.
Sandra Grobbelaar het egter die antwoord. Sy skryf dat die klip by die plaas Doornlaagte opgerig is.
“Ek het daar grootgeword. My pa Attie Steenkamp het die plaas in 1957 gekoop en met die bou van die teerpad het hul die klippe daar uitgestoot.
“My ma, Dirkie Steenkamp, het die klippe gesien en in samewerking met die padbouers die klippe opmekaar laat messel. Sy het dit gereeld geverf en ook die balletjie (op die “rob” se neus) rooi geverf. Sy is nou 94 jaar oud.”
Hierop het Desireé Tiekie van Biljon geantwoord: “Die rob-klip is aan die oorkant van die plaas Rooipan waar die familie vir jare sedert 1943 geboer het.
“Die ou grondpad na Griekwastad het deur ons plaas geloop. Met die bou van die (nuwe) teerpad het hierdie klippe na voorskyn gekom – soos Sandra genoem het. Op die klip was die afstand 26 myl geverf.
“Die bal op die rob se neus was aanvanklik ’n ronde klip wat met sement vasgesit is en helderrooi geverf was.
“Iemand het intussen die klip ‘verwyder’ en vervang met ’n balklep.
“My kinders het vir jare die verf van die klip as hul vakansie projekte beskou.
“Dis wonderlik om almal se reaksies en insette te lees”.


