Johan de Klerk en Riebeeck Olivier staan op die brug en kyk uit oor die rivier.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Danksy milde somer- en herfsreën vloei die Kurumanrivier vir die tweede keer in twee jaar.

Die andersins droë rivierloop het in 1988 laas so sterk soos verlede jaar en nou geloop, sê William Olivier.

Die rivier strek vir 6 km oor sy en sy broer, Riebeeck, se plaas Grootdrink, sowat 20 km noord van Black Rock.

“Was dit nie so koud nie, het ons met tubes rivier af baljaar,” sê William.

“Die milde reën van die afgelope weke het die rivier weer laat loop. Dit is weliswaar nie so sterk soos verlede jaar in April nie, maar darem.”

Die rivier, wat van hul plaas in die rigting van Van Zylsrus loop, het verlede jaar tot in Junie gevloei.

“Dis wonderlik om die lopende rivier te hê. Toe ons die plaas in 2010 koop, was dit ses jaar voordat die droogte begin het. Nou lyk die weiding en veld weer mooi, al steel die rivier ’n bietjie van die weiding.”

Op plekke is die rivier 30 m breed en 1,5 m diep.

Die broers boer met 18 spesies vlaktewild.

“Maar nou het ons visse in die rivier en visarende wat in die bome sit en tuur. Reiers en kolganse en allerhande ander soorte watervoëls.”

Toe die rivier verlede jaar sterk gevloei het, het die twee gesinne aanvanklik lig geloop en versigtig geswem om nie op duwweltjies en doringtakke in die rivier te trap nie, maar dit het intussen weggespoel.

’n Wildheining wat oor die rivier span, keer hulle om die hele roete stroomaf te swem of vaar.

Die rivier het een van hul plaaspaaie onbegaanbaar gemaak. Aangesien hulle die eienaars van die Olivier-konstruksiemaatskappy is, was dit egter nie ’n kwessie nie.

“Ons is eintlik kontrakteurs van beroep en boer net deeltyds,” sê William.

“Ons het ’n netjiese brug, wat oor 15 m strek, oor die rivier gebou. Ons kan met gemak daaroor ry om die hele plaas te bereik.”

Die brug is 1,3 m bo natuurlike grondhoogte.

Die Olivier-broers, William en Riebeeck, het ’n brug gebou om oor die Kurumanrivier op hul plaas te ry.

Die brug wat die Olivier-broers, William en Riebeeck, oor die Kurumanrivier op hul plaas gebou het, is 15 m lank.

You need to be Logged In to leave a comment.