As dit nie so ontsettend moeilik was om soms tot twee weke sonder water te moet klaarkom nie, sou hulle kon lag oor elke nuwe verskoning wat gegee word wanneer Ritchie alweer nie water het nie.
Só vertel inwoners van Ritchie.
Dié nedersetting 40 km van Kimberley af bestaan uit ’n hoewegedeelte, asook die Motswedimosa- en Ritchvale-woonbuurt, en is deel van die Sol Plaatje-munisipaliteit.
Inwoners van al die buurte ly wanneer die krane droog is.
“Al wat ek wil hê, is water. Water vir myself, my bokke, my honde, my groentetuin en vir die gras vir my diere. Raadslede moet daarom nie vir my sê ek moet water by die kafee gaan koop nie,” sê ’n inwoner wat soos die meeste ander verkies om anoniem te bly.
“Met die onlangse onderbreking in watertoevoer van byna twee weke het ek die eerste keer in twee jaar ’n watertrok in hierdie deel van Ritchie gesien,” sê die inwoner.
’n Tuinwerker sê hy het tydens dié tydperk ’n 5 liter-bottel met water by sy werkgewer gekry. Terwyl hy huis toe gestap het, het die kinders al agter hom aangeloop en vir ’n glasie water gebedel.
Hoewel watertrokke uit Kimberley tydens onderbrekings in watertoevoer belowe word, “vat hy sy tyd”. Daag die trokke wel op, is die water vuil, sê hulle.
“Net so rou soos die water uit die rivier kom, so kry ons dit in die krane,” sê ’n vrou, en verduidelik dat die modderafsaksel in ’n emmer sommer die hele bodem “diep toelê”.
Sy is moedeloos wanneer sy vra: “Hoe was jy wasgoed met sulke water? Hoe maak jy kos met dit?”
Nog ’n man sê die vuil water laat hulle mae “sny en pyn”.
Boonop is daar gewoonlik ’n bakleiery by die watertenks omdat al die tenks nie water kry nie.
“Dié wat die water bring, gee net vir die mense wat hulle ken.”
’n Inwoner van Rietvale sê wanneer hy soms van die werk af kom, moet hy noodgedwonge water uit die Rietrivier gaan skep.
“Maar die water is vuil en die rivier is ver,” sê hy. Dit is vir hom onaangenaam om met die vuil water te moet was, of om “taamlik ongewas” die volgende dag weer werk toe te moet gaan.
Die spoeltoilette en toiletbehoeftes is ook ’n groot gemors wanneer die water af is, sê hy.
Wanneer die water wel aan is, is die waterdruk swak, sê ’n bejaarde inwoner.
Miljoene se ‘upgrade’ help nie
“Die nuwe waterreservoir help net mooi niks. Dit staan daar vir die mooiheid. Dit is glo R36 miljoen se upgrade,” sê hy.
In November 2020 het NoordkaapBulletin berig dat die waterprobleme van toe glo merendeels plaasgevind het omdat die reservoir, in daardie tyd ongeveer vyf jaar gelede opgerig, nie voldoende is om aan die aanvraag te voorsien nie.
’n Onderneming is in 2020 deur die munisipaliteit gegee dat nog ’n reservoir opgerig sal word.
Die aanvang van dié oprigting was toe onbekend, en in Februarie 2022 is dit steeds net ’n gedagte.
“Dit alles terwyl toegang tot water ’n basiese reg is,” sê die man.
Einde Januarie was waterpompe wat in die Rietrivier verspoel weens die vloed, as ’n rede vir die wateronderbrekings gegee en dat die polisieduikers weens die gevaarlike omstandighede in die rivier nie kon duik en rondom die pompe skoonmaak nie.
’n Inwoner skryf op 27 Januarie op ’n WhatsApp-groep dat die rivier gereeld in vloed is en elke keer is dit dieselfde gemors.
Teen 29 Januarie is die gesoek na ’n geskikte klamp wat die druk tussen die pomp en die pyp kan hanteer, as rede aangevoer. Toe was die inwoners reeds vir vyf dae sonder water.
Vullis gaan veld toe
Vullisverwydering is ook steeds ’n gemors.
Dit is glo veronderstel om een maal in twee weke te gebeur, maar meestal staan dit tot ’n maand oor.
“ ’n Mens weet nooit wanneer hulle gaan opdaag om vullis te verwyder nie. En die sakke kan nie onbepaald buite staan nie, want dit word deur sakkrappers en honde oopgeskeur,” sê ’n vrou.
’n Inwoner van Ritchvale vertel dat hulle maar die vuilgoed in die veld weggooi.
“Wat moet ons daarmee doen as dit nie opgelaai word nie? Ek weet nie wanneer laas ek ’n vuilgoedwa gesien het nie,” sê hy.
Ongeag daarvan dat elkeen wat ’n munisipale rekening het, maandeliks vir die leegpomp van dreine moet betaal, gebeur dit glo ook selde.
“By ons is dit nou al twee maande dat hier niemand was nie,” sê een.
“En as die dreinlorrie in die omgewing is, help julle jou net as jy hulle iets in die hand stop. Dit terwyl ons reeds daarvoor betaal.”
Die inwoner beweer dat die vragmotor wat die dreine pomp, veral op Sondae sigbaar is.
“Dan ry hulle hier op en af vir dubbeltyd,” sê hy.
’n Ander inwoner sê dat hy al ’n private kontrakteur gekry het om die drein op sy erf leeg te pomp, teen ’n gemiddelde koste van R600 tot R800.
Net die volgende dag was die drein weer vol weens ’n varswaterlekplek van die munisipaliteit.
Dié waterlekplek het hy reeds op 13 Desember aangemeld, met ’n verwysingsnommer.
Boonop vind kragonderbrekings vir tot meer as 24 uur op een slag gereeld plaas, wat glo ’n Eskom-verwante probleem is. Wanneer dit gebeur, kan selfs dié met watertenks en pompe nie water pomp nie.
Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê daar is talle oorsake vir onderbrekings in watertoevoer.
“Ongelukkig is diefstal en vandalisme van ons infrastruktuur in Ritchie op industriële vlak. Die gemeenskap moet deel in die poging om die situasie by die waterpompstasie en die onttrekkingspunte te stop,” sê hy.
Matsie sê voorts dat die munisipaliteit kennis neem van die ander kwessies waaroor navrae gerig is, en dat dit met die onderskeie afdelings bespreek sal word.