Weens die rioolverwerkingsaanleg in De Aar wat nie in ’n werkende toestand is nie, word rou riool blykbaar in parke en oop stukke veld rondom die dorp gestort.
Rou riool word ook verby die rioolaanleg na die Brakrivier-opvanggebied gekanaliseer.
Die benarde situasie by dié rioolaanleg duur glo al meer as vyf jaar, en na bewering is daar niks om te wys van die R10 miljoen wat vyf jaar gelede beskikbaar gestel is om die aanleg te verbeter nie.
Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is riool nie die enigste probleem in De Aar nie.
“Drinkwater is ook al die afgelope vyf jaar ’n reuse-probleem in De Aar, Hanover en Britstown.
“Dis ironies aangesien De Aar juis sy naam gekry het vanweë sy ondergrondse watervoorraad.”
Van die 59 boorgate in De Aar is glo slegs sewe in ’n werkende toestand.
“Die boorgate wat wel bruikbaar is se pompe is te klein om die vereiste kapasiteit te hanteer. Die gevolg is dat die waterdruk swak is en hierdie pompe dan minder water verskaf as waartoe dit in staat is.”
Strauss sê in sy verklaring dat munisipaliteite hul trots moet sluk en hande moet vat met die private sektor om te verhoed dat werkende rioolaanlegte nie tot die toestand van De Aar se aanleg verval nie.
“Ons doen ’n beroep op Emthanjeni-munisipaliteit om ons gemeenskapslede en omgewing se belange op die hart te dra. Die munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid om werk te maak daarvan om die rioolaanleg weer in ’n werkende toestand te kry en daardeur nie meer rou riool sommer in parke in te stort nie,” sê Strauss.
Intussen sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en Noord-Kaapse partyleier, dat drie voorvalle verlede week buite De Aar waargeneem is waar munisipale werkers met onwettige afvalstorting voor en ná formele werksure besig was, glo in opdrag van hoër amptenare.
Boshoff sê in een geval het ’n tenkvragmotor sy vrag in ’n sloot in die veld gestort.
In ’n ander voorval in dieselfde omgewing was die operateur van ’n laaigraaf besig om ’n gat te grawe waarin vervalde chemiese produkte van ’n plaaslike supermark gestort is.
Volgens die operateur was dit om te keer dat kinders dit op die vullisterrein kry en gebruik.
Wilhelm Reichert van die VF Plus was op die terrein om ’n klag op te volg rakende die dorp se groot rioolpyp na die rioolplaas wat ontkoppel is, met die gevolg dat rou riool in ’n sloot tot in ’n pan afvloei.
Volgens Boshoff het die munisipaliteit ’n waarskuwing uitgereik dat inwoners drinkwater moet kook ter wille van veiligheid.
“ ’n Verband tussen die rioolstorting en besmette grondwater lyk waarskynlik,” sê hy.
Watermonsters is van die rioolwater in die afvoersloot en van die drinkwater geneem.
Dit is vir die toets van verskillende patogene by ’n onafhanklike geregistreerde laboratorium ingedien.


