Blougroen-alge of sianobakterieë gedy op nutriënte afkomstig van menslike afval wat deur wanfunksionele munisipaliteite se rioolverwerkingsaanlegte in onder meer die Vaal- en Oranjerivier gestort word. Giftige toksiene word deur die alge vrygestel.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

’n Bekommerde wetenskaplike navorser wat die besoedeling in die laer Vaal- en Oranjerivier die afgelope ses jaar bestudeer, beweer goed besoldigde staatsamptenare gebruik staatsgeld vir ander doeleindes eerder as vir doeltreffende werkverrigting, en is besig om die bevolking te vergiftig.

Dit kom ná die departement van water en sanitasie (DWS) se waarskuwing dat munisipaliteite, gemeenskappe en boere langs die Vaalrivierstelsel – veral Barkly-Wes, Windsorton, Warrenton en stroomaf – nie rou water uit die rivier moet drink nie.

Die Dikgatlong-munisipaliteit in Barkly-Wes is aangeraai om die behandeling en operasionele monitering van behandelde drinkwatergehalte strenger te maak.

Fritz Bekker, direkteur van Gariep Watch, ’n nie-regeringsorganisasie, is hoogs besorg oor die giftige toksiene wat deur pluime blougroen-alge vrygestel kan word. Hy doen navorsing in die benede Vaal en Oranje-rivier in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US) en gaan binnekort sy wetenskaplike navorsingsresultate bekendstel.

Groot hoeveelhede ongesuiwerde riool in riviere
Bekker sê Suid-Afrika se riviere was nog nooit voorheen blootgestel aan sulke groot hoeveelhede ongesuiwerde riool wat die opbloei van dié giftige alge veroorsaak nie.

“Blougroen-alge of sianobakterieë gedy op nutriënte afkomstig van menslike afval wat deur wanfunksionele munisipaliteite se rioolverwerkingsaanlegte in die riviere gestort word. Wanneer sianobakterieë aan hoë konsentrasies soutwater afkomstig van myne in Gauteng blootgestel word, word die selwand beskadig wat toksiene in die water, skuim op die water en in die lug vrystel.

“Die jaarlikse toename van soutmynwater wat in die Vaalrivier beland, hoë temperature, lae riviervloei, hoë ligintensiteit en baie nutriënte (weens menslike afval) veroorsaak ’n perfekte storm met alge wat gedy.”

Die sianotoksiene kan neurologies degeneratiewe siektes soos Alzheimers, Parkinsons se siekte, demensie, asook kanker, motorneuronsiekte, verlamming en versmoring veroorsaak.

Blougroen-alge of sianobakterieë gedy op nutriënte afkomstig van menslike afval wat deur wanfunksionele munisipaliteite se rioolverwerkingsaanlegte in onder meer die Vaal- en Oranjerivier gestort word. Giftige toksiene word deur die alge vrygestel.

Diere en watervoëls kan vrek as hulle die toksiene deur die water of skuim inkry. Groot visvrektes kan voorkom wanneer die alge al die suurstof in die water opgebruik.

Konvensionele watersuiweringsmetodes kan nie die sianotoksiene verwyder nie.

“Ek het strafregtelike klagtes by die polisie, die Menseregtekommissie (MRK) en die DWS ingedien.

“Die MRK en die omgewingsinspektoraat (Groen Skerpioene) in Kimberley is baie behulpsaam, maar staatsentiteite sukkel om ander staatsentiteite aanspreeklik te hou.

“Amptenare van departemente is nie suksesvol om amptenare of munisipaliteite vir rioolstortings verantwoordelik en suksesvol aanspreeklik te hou nie. Min, indien enige, monitering word gedoen. Solank onopgeleide en onbevoegde kaders in nasionale en provinsiale departemente en munisipaliteite aangestel word, sal hulle mekaar beskerm eerder as om te verseker dat riviere nie besoedel en mense vergiftig word nie.”
Fritz Bekker

Bekker sê amptenare gebruik nie behoorlik geakkrediteerde laboratoriums om watermonsters te toets wat die aaklige waarheid sal ontbloot nie.

“Benewens die menigte munisipaliteite in die suidelike gedeelte van Gauteng, stort munisipaliteite ongesuiwerde riool al langs die riviere in plekke soos Bloemhof, Christiana, Warrenton, Jan Kempdorp, Hartswater, Barkly-Wes, Hopetown, Kakamas, Vredesvallei en Upington.”

Bekker sê die gemiddelde E. coli-telling van munisipale riooluitvloeisels vanaf die Bloemhofdam tot by Kakamas is 8,5 miljoen cfu.

“Ideaal gesproke behoort daar geen E. coli in ons rivierwater en drinkwater te wees nie.”

Wisane Mavasa, woordvoerder van die departement van water en sanitasie (DWS), sê hulle doen gereelde monitering op plekke van belang by voorafbepaalde stasies op die Vaal-, Harts- en Oranjerivier soos deur die nasionale waterwet vereis.

“Die meerderheid van afvalwater­verwerkingsaanlegte op die Vaal- en Oranjerivier het direktiewe ontvang om stortings te bekamp en herstelwerk te doen.

“Die aanlegte voldoen tot ’n mate aan die direktiewe, hoewel dit tyd neem.

“Om die stortings in die meeste gevalle op te los word grootskaalse opknapping van infrastruktuur vereis, wat befondsing verg, terwyl die verwaarlosing van bedryfs- en instandhouding algemeen voorkom.”

In Vryburg is regstappe teen die Dr. Ruth Sekgomatsi Mompati-distrik gedoen en ’n hofbevel is uitgereik wat regstelling vereis.

Wetlike voorskrifte bepaal dat die munisipaliteit wetlik aanspreeklik gehou word.

Waar munisipaliteite nie goed funksioneer nie, word die vereiste administratiewe wetstoepassing gedoen en projekte geloods om die aanlegte op te knap.

Die toestand van die provinsie se afvalwateraanlegte word bespreek in die Groendruppel-, Bloudruppel- en Geendruppelverslag wat binnekort uitgereik word.

Wat die bewering betref dat amptenare mekaar beskerm, is die departement nie van bewus van só ’n praktyk nie.

“Die bewering dat ons ’n sekere laboratorium gebruik om die uitslae van watermonsters te versag, is vals.

“Ons besit geen laboratoriums en stel net geakkrediteerde laboratoriums aan.

“In Upington het ons direktiewe aan die Dawid Kruiper-munisipaliteit oor die bestuur van die Kameelmond-watersuiweringsaanleg uitgereik.

“Die Kameelmond-aanleg is opgeknap en verdere opgradering om die kapasiteit te verhoog, is aan die gang.”

Soortgelyke direktiewe is aan die Vredesvallei-aanleg van die Kai !Garib-munisipaliteit uitgereik.

“Die opknapping is egter uitdagend weens finansiële- en leierskap-onstabiliteit.

“Hoewel daar regstellings was, is daar steeds stortings.

“Die pompstasies is opgeknap, maar die langtermynprojek vir ’n nuwe water­suiweringsaanleg is ook gevandaliseer,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.