Die pompstasie in Barnardstraat, een van die wat gereeld buite werking is.

Foto: Video-skermgreep Credit: Helena Barnard

Die invloei van onverwerkte riool in vars water wat inwoners van Kuruman en omgewing daagliks moet gebruik, “het afmetings aangeneem wat uiters gevaarlik is”.

Om dié rede het DA-LP Willie Aucamp, kiesafdelingshoof van die Kalahari, ’n verbintenis van die departement van water en sanitasie (DWS) verkry om vandeesweek die rioolbesoedeling van die vars water, wat uit Die Oog in Kuruman vloei, te besoek.

Die Oog is ’n belangrike natuurlike fontein wat daagliks 20 miljoen tot 30 miljoen liter water lewer, en ook die Kurumanrivier en twee kanale van 7 km voed.

Dit volg nadat die party verlede week ’n eenparige ooreengekome mosie in die parlement ter tafel gelê het, waardeur besluit is dat die Ga-Segonyana– plaaslike munisipaliteit dadelik die rioolpompstasies moet herstel en die kanale skoonmaak en in stand hou.

Die water in die kanale vloei van Die Oog, deur die dorp, en na afgeleë nedersettings en landelike gebiede. ’n Aantal pompstasies wat gereeld buite werking is, veroorsaak dat rioolwater na die kanaal oorstroom. Die twee kanale wat vir baie jare nie skoongemaak of onderhou is nie, veroorsaak verdere verstoppings wat tot die vorming van riooldamme lei.

Die DA het die saak reeds verlede jaar ontbloot toe inligting ontvang is dat vee vrek weens die hoë E.coli-vlakke in die kanaal.

“Ons het dit by die munisipale bestuurder aangemeld en vir hom ’n videogreep gestuur van ’n toilet met ’n sinkraam wat op die kanaallyn aangebring is,” sê Aucamp.

Ongeag dié duidelike bewyse van besmetting is daar nie opgetree nie.

Aucamp sal daarom vandeesweek die DWS na verskeie besmette gebiede vergesel en ook ’n vergadering met die munisipale bestuurder vasstel om hom oor die NRP se besluit in te lig.

Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het ook ingestem dat die Groen Skerpioene dit moet monitor.

kuruman

‘n Erf in Cillierslaan, Kuruman, deurdrenk met rioolwater.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article