’n Gedeelte van die dam met rioolwater in Wrenchville, Kuruman.

Foto: Videogreep

Inwoners van Wrenchville moet al jare lank met die “ondraaglike stank” van riool saamleef, terwyl dit voorkom of daar geen haas van die Ga-Segonyana- plaaslike munisipaliteit is om die oorsaak daarvan op te los nie.

In dié woonbuurt van Kuruman word inwoners en besoekers, wanneer hulle vanaf die N14 in Kanariestraat indraai, gereeld met ’n “straat vol” rioolwater op die hoek van dié straat en Lewerikstraat begroet.

By die draai waar Protea- en Asterstraat ontmoet, ruik dit allermins na blomme. Hiér meld inwoners reeds meer as vyf jaar ’n verstopte rioolpunt aan.

Proteastraat in Wrenchville, waar dit met Asterstraat ontmoet, word bykans nooit meer as ’n pad gebruik nie weens die riooloorstroming.

“Die reuk is ondraaglik en die riool dam erg op,” vertel Stanley Jansen wat in dié straat woon.”

“ ’n Mens kan dit nie meer vat nie.”

Vanuit die verstopte rioolmangat stroom die rou riool al vir jare oor die pad en het dit ’n riooldam aan die anderkant van die pad gevorm.

Voertuie maak bykans nooit meer van dié pad gebruik nie.

Ná jare se aanmelding van die verstopping het werknemers van die munisipaliteit enkele maande gelede ’n gat langs die verstopte mangat gegrawe, asook sementpype vir die aanbring van ’n nuwe mangat daar afgelaai.

Sedert dié sementpype, reeds enkele maande terug, vir ’n mangat by die verstopte rioolpunt afgelaai is, en ’n gat gegrawe is, het geen verdere herstelwerk hier plaasgevind nie.

Sedertdien het geen herstelwerk hier plaasgevind nie, en riool stroom onverpoos uit die mangat.

Jansen vertel dat die gat nie afgesper is nie, en dat ’n jong man onlangs daarin beland het.

“Gelukkig was hy nie onder die invloed nie, anders het hy verdrink.”

Om soortgelyke voorvalle te verhoed het sy seun takke oor die gat gepak.

’n Inwoner van Wrenchville het onlangs takke oor die gat wat deur werknemers van die Ga-Segonyana plaaslike munisipaliteit gegrawe en onafgesper gelaat is, gepak.

Volgens Nottie Eilerd, DA- en proporsionele raadslid by die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit, en inwoner van Wrenchville, hou die opgedamde riool nie net ’n gesondheidsgevaar in nie, maar ook ’n gevaar vir kinders omdat hulle daarin speel.

“Mense in daardie area sukkel om kos te kook, want al wat hulle ruik is riool,” vertel hy.

Hy sê die rioolpompstasie wat in Wrenchville bestaan het, is jare gelede in onbruik geplaas nadat ’n kind daar verdrink het.

Die gevolg is dat dié buurt se riool ook direk na die hoofrioollyn gepomp word, wat die lading nie kan dra nie. Boonop is ’n nuwe skool onlangs in die area gevestig, en ’n nuwe uitbreiding met ongeveer 240 huise is ter sprake.

riool

Nottie Eilerd, DA- en proporsionele raadslid by die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit.

Rioolverstoppings kom oor die hele Kuruman heen voor, en is ’n massiewe probleem, sê Braam van der Westhuizen, DA-raadslid.

“Terwyl inwoners daagliks met die ondraaglike reuk van riool moet saamleef, lyk dit of daar ná jare niks van beloftes kom nie. Uitbreiding van woonbuurtes neem toe, terwyl die water- en rioolstelsel nie daarmee tred kan hou nie.

“Ondergrondse water word ook hierdeur besoedel,” sê hy.

Navrae is aan die munisipaliteit oor die plan van aksie, om die rioolverstoppings en -oorstromings te hanteer, gerig.

Die kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Dié skermgreep op Google Maps, wat uit Maart 2023 dateer, wys dat dié rioolblokkasie nie nuut is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article