Kumba Iron Ore, wat Sishen – die grootste oopgroefmyn in Afrika – bedryf, het die mark teen einde April laat weet daar sal weens die wêreldwye Covid-19-pandemie op kontantbewaring konsentreer word.

Die maatskappy het sy riglyne vir die produksie en verkope van ystererts vir vanjaar tot onderskeidelik tussen 37 miljoen ton en 39 miljoen ton, en 38 miljoen en 40 miljoen ton teruggesnoei. Die mikpunt is ’n kostebesnoeiing van R325 miljoen en uitgestelde kapitaaluitleg van R1 miljard. Dit volg op ’n daling van 3% in verkope ná ’n halvering in plaaslike vraag.
Kumba het uit sy langtermyn-bulkanaal gebreek, gedryf deur ’n enorme afverkoop in die mark weens vrese oor die Covid-19-pandemie in Februarie. Die daling het tot op 20 525c per aandeel voortgeduur, maar teen middel Februarie het die aandeelprys herstel nadat Kumba ’n styging van 62% tot R33,4 miljard in sy voljaar-verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie (ebitda) aangeteken het.

Kumba se aandeelprys huiwer tans op die laer helling van sy langtermyn-bulkanaal. Met die drieweekse relatiewesterkte-indeks (3W RSI) effens oorkoop, kan verkopers weer na vore tree. Bly steun dit egter op 32 515c of bokant 30 970c, sal dit ’n positiewe teken gee.
’n Voortgesette styging bokant 37 510c sal ’n koopgeleentheid bied, want dan het die aandeelprys sy kanaal hervat en is die weerstandstendenslyn van sy regstellende mediumtermyndaaltendens – wat binne die kanaal gevorm het – deurbreek. Lang posisies kan bokant 43 700c aangevul word, met ’n moontlike styging tot 53 900c of selfs tot by 61 955c, sy allerhoogste vlak.
Weerstand op 37 510c en steun wat op 30 970c meegee, sal beteken Kumba sukkel om sy bulkanaal te hervat – en dat die huidige styging ’n terugkerende beweging was, waarna Kumba weer sal terugsak tot by steun op 20 525c en selfs laer. – Moxima Gama, Finweek