‘n Projek van R1,55 miljard in die vorm van rolprentateljees word net buite Riverton, naby Kimberley, beplan.
Dié projek is Donderdagaand (08/10) onder die naam van Kora Studios by die Ster Kinekor-teaters in Kimberley bekend gestel.
Alex van der Walt, uitvoerende hoof van Kora Studios, sê verskeie nasionale en internasionale rolprentvervaardigers stel reeds belang om die beplande uitgebreide geriewe te gebruik.
Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het in sy toespraak gesê Kimberley en omgewing is die ideale plek vir so ’n ateljee. Behalwe dat dit duisende werkgeleenthede bied, sal nywerhede ook betrokke wees. Die projek vorm deel van Saul se visie vir die Noord-Kaap: modern, groeiend en suksesvol.
Van der Walt sê ander projekte is in ’n gevorderde stadium van beplanning. Dit sluit in ’n baksteenfabriek, die vervaardiging van transformators en die bou van honderde woonstelle in dele van Kimberley. ’n Projek, waar uitgediende motorbande herwin word om paaie van te maak, is ook in die beplanningstadium.
Van der Walt sê die geleentheid Donderdag het gedien as ’n vooraf bekendstelling van Kora Studios en die sooispit-seremonie word vir April beplan.
Volgens inligting sal die ateljee se geriewe, op 300 ha naby die Vaalrivier, onder meer sewe klank- en opnameateljees hê wat ’n oppervlakte van 17 000 vierkante meter sal beslaan – 15 ha Amerikaanse plattelandse en stedelike agtergrond sal vir rolprentvervaardigers opgerig word, asook werkswinkels en pakhuise van 8 000 vierkante meter. Kantore en ateljees vir na-produksie sal ook beskikbaar wees.
Daar is gemeld dat die Noord-Kaap, met sy besondere weer, die ideale ligging vir so ’n projek het. Behalwe dat dit ’n ekonomiese inspuiting vir die omgewing kan wees, sal dit minstens 3 000 werkgeleenthede skep. Konsultante, akteurs, musikante, stelbouers, konstruksiewerkers, metaal-, hout- en kleremakers, rolprenttegnici en ander vaardighede sal onder meer benodig word. Daarby word bereken dat kleinhandelaars, geriewe vir verblyf, lug-, pad- en spoorvervoer, toergidse, spyseniering en toerisme ook daarby baat sal vind.
Maynard Kraak, ’n rolprentvervaardiger, het die geleentheid bygewoon en ná die bekendstelling van die projek is die première van sy rolprent, The Last Victim, vertoon.