Die aankoop van 18 skootrekenaars teen R50 000 elk deur die Gamagara-munisipaliteit in Kathu word ondersoek.
Anna-Marie Caetano, DA-raadslid, sê geen sagteware of selfs ’n antivirusprogram is op die rekenaars geïnstalleer nie. Dié rekenaars, wat die munisipaliteit R900 000 uit die sak gejaag het, is glo vir personeel en raadslede aangekoop.
In ’n verklaring sê die party dat die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley se skootrekenaars R15 000 elk gekos het. Dié prys het glo ’n rekenaarsak, oorfone en ander toebehore ingesluit.

