Barney, oftewel George Peters, vermeende bendeleier.
Barney, oftewel George Peters . Foto: Charné Kemp

Die verhoor van drie weke lank waarin George Peters, oftewel Barney, vermeende berugte leier van die Hollanders-bende in Kimberley en Kuruman, en 15 medebeskuldiges op 117 aanklagte tereg staan, begin weer oor ʼn week. Dan sal die staat en verdediging betoë moet lewer oor ʼn regsvraag oor die betrokkenheid van ʼn staatsgetuie.

Vrydag 24 Oktober is die verhoor gehalt nadat die verdediging beswaar gemaak het teen die staat wat ʼn staatsgetuie laat getuig het. Die staat het versoek dat die hof die staatsgetuie aan sekere ernstige misdade mag vryspreek sou hy eerlik en opreg getuig.

Intussen verkies Peters steeds om nie die verhoor in persoon by te woon nie nadat hy vroeër weens ontwrigtende gedrag uit die hofsaal verwyder is.

LEES OOK: Bendeleier ‘Barney’ sê hy is ‘n ‘rolmodel, onskuldig’ en ‘het geen tatoeërmerke’

Peters en sy 15 medebeskuldigdes word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle vanaf Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld gemaak uit dwelmhandel en die vroue is glo as dwelmmuile gebruik. Die 117 aanklagte sluit onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering, verkragting, en geldwassery in.

Sy mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza, en Shawn Smith. Van hulle is Peters se broers, eertydse en huidige houvroue (sister-wives) en vermeende makkers.

Getuie in aanhouding op ‘onbekende misdade’

Adv. Jacques Rosenberg, aanklaer, het verlede Donderdag vir Demeon Hannie as getuie geroep. Hy is in aanhouding nadat hy op onbekende misdade skuldig bevind en gevonnis is.

Rosenberg het gesê Hannie, as ʼn Artikel 204-staatsgetuie, sal oor voorvalle getuig waarin hy homself kan inkrimineer op misdrywe soos poging tot moord, dwelmhandel, afvuur van vuurwapens in beboude gebiede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Indien sy getuienis eerlik en openlik is, mag hy deur die regter vrygespreek word.

Hannie kon Donderdagmiddag weens tydsbeperking net vir ʼn uur getuig oor die aand van die voorval waarin hy skote buite sy woonstel gehoor en van die beskuldigdes voor sy woonstel in die gang gesien het.

LEES OOK: Bendeleier ‘Barney’ bly afwesig uit sy eie verhoor ná ‘onordelike gedrag’

Luidens die akte van beskuldiging het Peters en ʼn klompie makkers op 17 Junie 2021 met ʼn minibus na Hannie se woonstel in Roodepan gery glo met die doel om hom te vermoor. Die mans het na bewering skote in Hannie se woonstel en aangrensende woonstelle afgevuur en die vuurwapens aan die vroue oorhandig. Die polisie het die groep voorgekeer, en die vroue is apart in ‘n vangwa gelaai. Peters en sy manlike makkers het na die polisiekantoor in hul voertuig gery nadat die polisie geen vuurwapens op hulle gevind het nie. Die polisie het vuurwapens in die vangwa ontdek waarin die vroue vervoer is.

Vrydagoggend het Renier Pieterse, namens sy kliënt, beswaar gemaak oor die wyse waarop Hannie as staatsgetuie voorgestel is. Volgens hom weet die verdediging nie vir watter misdade Hannie gevangenisstraf uitdien nie. Die aanklaer het dit ook nie duidelik gemaak of Hannie van dieselfde aanklagte as die beskuldigdes verdink word nie. Vir die rede het die verdediging aangedring dat die misdrywe waarin Hannie homself mag inkrimineer, in besonderhede uiteengesit word.

Die deelsverhoor hervat op 3 November wanneer die staat en verdedigings betoë voor regter Almé Stanton sal lewer. Stanton sal daarna uitspraak lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.