‘n Ingryping word vir Groblershoop beplan.

Foto: groblershoop.co.za

Die ingryping
deur die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering, menslike
nedersettings en tradisionele sake om ’n regrukplan en ’n waarnemende
dorpsbestuurder by die wankelende !Kheis-munisipaliteit in Groblershoop aan te
stel, word met positiewe dog gemengde gevoelens verwelkom.

Volgens Rolf
Christie, die DA-burgemeester, het sy koalisieregering in 2021 na die plaaslike
verkiesing ’n “byna bankrot munisipaliteit met agterstallige skuld van R55
miljoen oorgeneem.

Groblershoop

‘n Ingryping word vir Groblershoop beplan.

Hulle het
vordering gemaak en kon later werksvoertuie aankoop om vullis te verwyder en
water- en rioolprobleme op te los.

“Ons vra reeds
jare lank hulp by die departement, veral geldelike hulp.

“Nou bied hulle
administratiewe hulp aan. Ek hoop nie die ingryping is ’n skans om uiteindelik
die munisipaliteit oor drie maande onder administrasie te plaas nie.

“Ek hoop van
harte hulle wil help om ’n verskil te maak.”

Oormaat personeel
Die grootste probleme is die oormaat personeel, wie se salarisse aanvanklik 58% van die begroting opgeslurp het.

Christie se
koalisieregering kon dit na 51% afbring, hoewel die ideale syfer tussen 24% en
31% is.

“Ons het geld
nodig om mense vroeg op pensioen te stuur om die organigram te verklein.

“Die probleem is
dat van die pensioenbydrae nie gereeld deur die munisipaliteit betaal is nie,
en hulle steeds moet werk.”

Boonop skuld die
munisipaliteit die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) miljoene rande.

SAID het ’n
hofbevel teen die munisipaliteit bekom en die bankrekening oorgeneem.

Christie is
bekommerd oor meer as 30 munisipale werkers se eise wat skynbaar weer deur die
waarnemende dorpsbestuurder oorweeg word. Die werkers is in vorige termyne laat
gaan en later weer aangestel. Hulle eis nou geld vir die tussenin periode.

“Ons wil eintlik
elke kontrak met regshulp deurgaan en op meriete finaliseer.”

Die
invorderingskoers van 24% onder inwoners het nie die afgelope jare veel
verbeter nie.

“Mense betaal nie
hul rekeninge nie. Ons versoek geldelike hulp om voorafbetaalde watermeters in
diens te stel om invordering te verbeter.”

Nadat die raad in
die 2021-verkiesing van vyf na 11 raadslede vergroot is, is hul
regeringstoekenning nie ooreenkomstig aangepas nie.

Aanvanklik het
die EFF sy steun aan die koalisie toegesê, maar sedert verlede jaar steun hulle
die ANC wat onbestendigheid meegebring het.

Voorstelle van regrukplan aanvaar

In ’n
departementele verklaring sê Tebogo Monyo, woordvoerder, dat LUR Bentley Vass
met amptenare, verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir
Plaaslike Regering (Salga) en raadslede vergader het.

“Die
munisipaliteit ervaar politieke en administratiewe onstabiliteit, ernstige
finansiële uitdagings; arbeidsgeskille; pensioene en derdeparty-betalings wat
agterstallig is; ’n opgeblase personeeltal en onvermoë om salarisse te betaal;
en algehele swak dienslewering.”

n Regrukplan is ontwikkel en op ooreengekom.

“Die ingryping
moet funksionaliteit en stabiliteit verseker. Raadslede moet saamwerk om die
gemeenskappe te dien, ongeag politieke oortuigings.”

Indien die
probleme voortduur en samewerking nie plaasvind nie, kan die raad ontbind word,
“wat die departement nie graag wil doen nie”.

Vass was verheug
dat raadslede die voorstelle aanvaar het.

Hy het
belanghebbendes aangemoedig om die aksieplan met onmiddellike ingang in te stel
om die “haglike situasie” te verbeter.

Die aksieplan sal
moniteer word om die gestelde doelwitte te behaal en stabiliteit mee te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.