Gemoedere loop hoog oor Affordable Outcomes-mynmaatskappy se aansoek om op die Rooifontein-wildsplaas vir diamante te prospekteer. Benewens wildbewaring word Rooifontein, net buite Kimberley, ook vir ontspanningsaktiwiteite soos die weeklikse parkrun en veldwedlope gebruik.
Die Ekapa-mynmaatskappy besit dié plaas wat ook gebruik word vir natuurbewaring en gepaardgaande navorsing, asook vir argeologie, wildsbesigtiging, toeristeverblyf, pieknieks, onthale en vergaderings.
Dit word deur die Rooifontein Wildlife Club se komitee, wat uit permanente werkers en vrywilligers bestaan, bestuur. Besware teen die beoogde mynbouaktiwiteite is onder meer reeds deur die klub, sy lede, bure, parkrun-deelnemers en ander belanghebbendes gelug.

Hannes Squier, klub-voorsitter, waarsku teen die katastrofiese impak op eko-toerisme, watervoorsiening en natuurbewaring. Die voorgestelde mynbou dreig om dekades van bewaringswerk en gemeenskapsbelegging in volhoubare eko-toerisme te ondermyn. Hierbenewens mag die belangrike historiese plekke op die plaas nie verlore gaan nie.
Hy sê dié plaas het ‘n ten volle geakkrediteerde 600m-skietbaan vir wettig-gelisensieerde lede van die klub ingerig.
“Indien hier gemyn word sal die klub finansieel nie verder kan voortbestaan nie. Die werkers sal hul werk verloor. Die klub is slegs ‘n lewensvatbare eenheid wat van jaar tot jaar bestaan tot die voordeel van Kimberley se gemeenskap en beskerming van die fauna en flora.”

Die klub, wat in 1998 gestig is, bestuur die plaas en sy fauna en flora. Dit het meer as 700 lidfamilies wat soontoe gaan om wild te kyk, fietsry of fotografie te beoefen, te kampeer, of in die wooneenhede te bly. Die Eco-Centre op die wildsplaas word vir onder meer huweliksonthale en verjaarsdagvieringe, asook opvoedkundige programme gebruik. Die Voortrekkers en die Scouts gebruik die plaas vir opvoedingsprogramme in natuurbewaring, plantidentifikasie en buitelugvaardigheidsontwikkeling aan sy jeugdige lede.
Vyf verskillende veldtipes bestaan op Rooifontein, wat die tuiste is van diverse wildlewe soos gemsbokke, bastergemsbokke, koedoes, springbokke, swartwitpense, rooibokke, waterbokke, blouwildebeeste asook kleiner diere soos krimpvarke, erdvarke, verskeie uilspesies, en minstens 73 aangetekende voëlspesies.
Squier is bekommerd oor verhoogde brandrisiko’s van mynbouoperasies, ontwrigtende onnatuurlike beligting wat nagtelike wildlewe raak en die negatiewe impak op lidmaatskapgetalle.
Omgewingskade, veiligheidsrisiko’s bedreigend
Jan Reichart wat langsaan Rooifontein boer, is hoogs ontevrede omdat myne hom reeds benadeel omdat hulle die akwifeer onder die aardkors leegpomp om te kan myn. Hy sê die watertafel het dramaties gesak en hom gedwing om dieper en duurder boorgate te boor om water vir sy vee te verkry.

“Die myne pomp meer uit as wat daar deur reënwater inkom. Die boorgate wat vir ons water op 60 meter gegee het, het meeste opgedroog omdat dit gedreineer en uitgepomp is. Dit kos duisende rande om nuwe gate te boor, en dan kry jy dikwels soutwater omdat die goeie water uitgepomp is.
“Water is ‘n grondwetlike reg, dit is my primêre reg om water vir my eie gebruik en vir my diere uit te pomp. Hulle wil my verder ontneem van daardie reg.”
Daar is ook veiligheidsrisiko’s en omgewingskade wat sy bestaan bedreig.
“Saam met die myne kom misdadigers wat strikke vir my wild stel of my beweging bestudeer om by my huis toe te slaan. Plaasaanvalle is ʼn wesenlike gevaar.”
Stofbesoedeling is nog ‘n beduidende uitdaging. “Met heersende westelike winde word mynstof na my plaas gewaai. My diere eet nie plante wat met stof besoedel is nie, wat gaan van my weiding word?
“Mynmaatskappye is net fortuinsoekers. Hulle maak miljoene rande uit ʼn hektaar grond, geld wat ek nie op ʼn duisend hektaar met boerdery kan maak nie. Buitendien het myne net ‘n beperkte leeftyd, en daardie grond kan nooit ten volle gerehabiliteer word nie.”
- Die klubkomitee moedig mense aan om as geaffekteerde partye die openbare vergadering op Donderdag 28 Augustus om 10:00 by die Horseshoe-motel by te woon om meer inligting te kry sodat beswaar aangeteken kan word.
Volgens die amptelike kennisgewing van die openbare deelnameproses vir ‘n mynbou-aansoek wat in die gedrukte media verskyn het, sal die omvangverslag voor of op 12 September vanjaar ingedien word.
Vir die rede word alle belanghebbendes en geaffekteerde partye genooi om die openbare vergadering op 28 Augustus om 10:00 in die Padock-saal by die Horshoe Inn-motel by te woon.
“Alle belanghebbendes en/of geaffekteerde partye word hiermee genooi om te registreer en hul kommentaar of kommer skriftelik te verskaf teen 8 September 2025,” lui die kennisgewing.
Volgens die kennisgewing is ‘n opsomming van die projekbedrywighede op die webwerf liwico.co.za beskikbaar.





You must be logged in to post a comment.