Die ANC-leier en president, Cyril Ramaphosa, kan Saterdag ’n “presidensiële gevoel” aan die Meerkat Marathon in Kimberley verleen wanneer hy as afsetter die sneller sal trek vir die wedloop wat om 05:30 die oggend in Dalhamweg begin.

Ockie Vermeulen, voorsitter van Vodacom Kimberley Road Runners wat die wedloop aanbied, het gisteraand bevestig dat Ramaphosa die geleentheid sal bywoon en atlete van die 42.2km-wedloop en 21.1km wedloop sal afsit.

Ramaphosa is in Kimberley vir die provinsiale bekendstelling van die ANC se manifes wat later Saterdag (2 Februarie 2019) by die Galeshewe-stadion in die Diamantstad sal plaasvind.

Die staatspresident is bekend daarvoor dat hy gereeld aan staptogte deelneem.

Hy moedig ook gereeld Suid-Afrikaners aan om aktief te raak en te oefen.

Ramaphosa het ook laat verledejaar atlete verras toe hy aan die 10km-wedloop by die 2018 Old Mutual Soweto Marathon in Johannesburg deelgeneem het saam met die Gautengse premier David Makhura en die minister van sport, Tokozile Xasa.

Die Meerkat-marathon word vanjaar vir die vierde keer aangebied en honderde atlete van Kimberley en ander dele van die land sal na verwagting aan die drie wedlope (42,2 km, 21,1 km en 10 km) deelgeneem.

Ongeveer 500 mense het verledejaar aan die Meerkat Marathon deelgeneem.

Die legendariese langasem van die Goudveld Louis Massyn is ook ’n bekende wat saam met talle top-atlete vir die marathon sal aantree.

Massyn spog met die voltooiing van meer Comradesultramarathons as bykans enige atleet in die geskiedenis van dié roemryke wedloop.

You need to be Logged In to leave a comment.