Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag 18 Januarie die sowat 10 000 mense in twee volgepakte markiestente in Roodepan, Kimberley, met sy Afrikaans en verhaaltjies aan sy voete gehad tydens die bekendstelling van ’n R1 miljard behuisingsprojek in die Noord-Kaap.
Hy het kort-kort verwys na die “ANC-regering wat baie vir burgers omgee en arm mense se waardigheid herstel” deur hulle van huise en gratis gesondheidsdienste deur die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te voorsien.
“Die ANC-regering het sedert die tydperk van pres. Nelson Mandela 4,7 miljoen huise vir ons mense in ooreenstemming met die Menseregtehandves gebou. Dit is onaanvaarbaar dat vier geslagte in ’n viervertrekhuis moet bly.”
Die behuisingsprojek is ’n eerste van sy soort in Suid-Afrika en word deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika finansier. ’n Soortgelyke projek word binnekort in die Oos-Kaap aangekondig. Vroeër het Ramaphosa die eerste sooi gespit op ’n oop stuk veld in Roodepan waar huise as deel van die inisiatief gebou gaan word. Altesaam 18 000 erwe regoor die provinsie is in die eerste fase van dienste voorsien. Die projek behels 47 bouterreine waar meer as 4 000 huise binnekort gebou gaan word.
Ramaphosa is elke keer luid toegejuig wanneer hy gesê het net plaaslike kontrakteurs gaan gebruik word wat werk aan inwoners sal bied.
“Die geld gaan plaaslik bestee word en hier bly. Ons gee ook voorkeur aan vroue-entrepreneurs.”
Volgens hom het hy en dr. Zamani Saul, premier, in 2021 met sy besoek aan die stad oor die behuisingsnood gesels.
“Die premier het gesê die provinsie het te min geld en dat ’n nuwe finansieringsmetode bedink moet word. Dit sal die regering 50 jaar neem om genoeg huise te bou. Die lening van die bank stel ons in staat om nou huise te bou en die lening oor tyd terug te betaal.”
Die president sê ’n banklening, eerder as staatsgeld, sal korrupsie kortwiek want verantwoording moet by die bank vir elke sent gedoen word.
“Ek sal gereeld kom inspeksie doen om die gehalte van bouwerk te bekyk. Geen betaling word gedoen as ’n huis nie klaar gebou is nie.”
Volgens hom boer die Noord-Kaap vooruit want beleggings van miljarde rande is in hernubare groenenergie-kragprojekte belê.
“Julle het ’n baie goeie leier in die premier.”
Die skare het geskaterlag oor sy staaltjie van ’n aantreklike vrou in Prieska wat hom hand aan hand in haar HOP-huis ingevat het om haar mooi huis te bewonder. Uiteindelik is hy na haar slaapkamer waar hy op die bed gesit het, maar opgespring het toe hy aan mev. Ramaphosa dink.
“Die vrou wou eintlik net sê die regering het haar waardigheid teruggegee nadat sy uit haar sinkhuis kon trek na ’n mooi huis.”
Volgens Saul bou sy regering nie net huise nie, maar ook skole.
“Ses nuwe skole is pas voltooi, en 13 is in aanbou. Ons het vir die eerste keer meer as 300 000 leerlinge in Noord-Kaapse skole. Ek is bly ons ouers neem hul kinders se opvoeding ernstig op.”


