Om radiokommunikasie tussen nooddienste in Kathu te herstel en te verbeter is die 18 m-hoë radiotoring onlangs met die hulp van verskeie rolspelers verskuif.
Op versoek van die Gamagara-nooddienste in Kathu is dié toring by die stasie se beheerkamer opgerig.
Dit volg nadat verwoestende brande die toring wat noodsaaklik vir radiokommunikasie tussen nooddienste is, beskadig het. Brande in dié omgewing het die afgelope paar maande duisende hektaar se grasvelde verwoes en miljoene rande se skade aangerig.
Die plaaslike brandweer het by die Kathu-tak van AfriForum om hulp aangeklop toe dit duidelik word dat radiokommunikasie sedert die brande ernstig verswak het en die reikwydte van die radio’s sedertdien uiters beperk is. Dié toring het oorspronklik by die ingang van die Kathu-gholfbaan, naby die beheerkamer van AfriForum se Kathu-buurtwag, gestaan.
Johan Snyman, voorsitter van die Kathu-tak, en Werner Strauss, AfriForum se koördineerder vir die Noord-Kaap, het die toring met die hulp van kundiges op 10 Oktober afgebreek om na die Kathu-brandweerstasie te verskuif en weer op te rig.
Volgens Strauss was die verskuiwing van dié 18 m-hoë toring ’n reusetaak. Dit bestaan uit drie dele wat elk ongeveer 6 m lank is. Dit is boonop in ’n soliede sementvoetstuk geanker.
“Die nuwe toring sal die radio-opvangs aansienlik verbeter en ook die kommunikasie tussen die verskillende rolspelers wat die netwerk gebruik. Dit sal ook ons lede in staat stel om direk met die Gamagara-nooddienste in verbinding te tree en enige mediese noodgevalle, brande en ongelukke doeltreffend te rapporteer,” verduidelik Strauss.
Die organisasie bedank almal wat by die oprigting van die toring betrokke was: Eazi Access Kathu vir die gebruik van sy Cherry Picker-masjien, Rhino Security Kathu vir mannekrag en die gebruik van gereedskap, Hanmag Crane Hire vir die gebruik van toerusting, en Kathu Pawnshop vir die gebruik van sy sleepwa vir die vervoer van die toring.





