Lisa Willers, wat in die Kimberley-karavaanpark in ’n? troshuis woon, sê haar omheinde erf is so nat dat haar honde siek geword het, terwyl derduisende muggies hul lewe versuur. Foto’s: Charné Kemp


Die oorsprong van vloedwater wat die verdere ontwikkeling van die Hullstraat- geïntegreerde behuisingsontwikkeling langs De Beers in Kimberley en omliggende eiendomme bedreig, word deur verskeie departemente, ’n mynmaatskappy en die Sol Plaatje-munisipaliteit ondersoek.

Volgens verskeie betrokkenes is die watertafel in die stad “geweldig hoog” ná die buitengewoon goeie reënseisoen waarin meer as 600 mm reënval in en om die stad gemeet is.

Toetse wat die VF Plus op die vloedwater laat doen het, toon onder meer ongewone en “kommerwekkende” hoë swael­vlakke. Die party het ook monsters van krane in die woonbuurt geneem wat bevestig die vloedwater is nie munisipale drinkwater nie.

’n Wit neerslag waar die water gevloei het, het in die veld en op paaie en sypaadjies kristaliseer.

Groot waterpoele is nog in die veld en aan die punt van een van die strate sigbaar.

Die water het volgens sommige inwoners ná die laaste reën in Junie vanjaar opgestoot, en het tot ’n week gelede in sterk strome op ’n oop stuk grond in die veld tussen die woongebied en die Ekapa-mynterrein gevloei.

Lungelo Hlangwana, uitvoerende hoof van die Hullstraat- geïntegreer­de behuisingsontwikkeling, sê verdere ontwikkeling op die betrokke oop stuk grond is deur die water en gevolglike moddermassa op erf nommer 34185 vertraag. Hulle beplan om sowat 600 huise op dié erf van 4 ha te bou.

“Die plaveiselpad in Piccadilly­straat voor ander inwoners se huise het heeltemal verspoel, wat ’n geldelike verlies is. Daar is skade aan huise weens die vog en neerslae.

“Ons het ’n tegniese span wat uit verskillende ingenieurs en bou­rekenaars bestaan. Die departement van menslike nedersettings gaan ’n geohidroloog aanstel om die oorsprong van die water te bepaal.

“Die watertafel is hoog ná die afgelope goeie reënseisoen.”

André Nieman, eienaar van die Kimberley-karavaanpark, is hoogs ontevrede oor die skade aan sy kampterrein en geboue, waarvan sommige al maande onder water staan.

“Ek kan nie my chalets verhuur nie. Ek vrees dat die geboue gaan kraak wanneer dit uitdroog.

“Mense wil nie meer hier kampeer nie weens die modder en die aardige reuk. Die salpeter slaan wit uit aan geboue, en een van my buitemure het omgeval. Ek was verplig om teen duisende rande slote te grawe om die water weg te keer wat van ’n hoërliggende gebied af kom.

“Ek verstaan dat die watertafel hoog is, maar ek het in 24 jaar, waarin daar ook goeie reënseisoene was, nooit so iets beleef nie. Ek wil weet waar presies die water vandaan kom, en wie pa gaan staan vir die skade aan my besigheid.”

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en Noord-Kaapse provinsiale leier, sê hulle het die water stroomop gevolg en gevind dat daar geen munisipale aanleg in dié rigting is waar die water vandaan kom nie.

“Watermonsters is van water in die veld en van die munisipale waternetwerk geneem.

“Laboratoriumtoetse dui aan dat die water in die veld nie aan die munisipale waterstelsel verbind kan word nie.

“Dit is kommerwekkend dat die water ’n laer pH het as die norm vir boorgate in die omgewing, en die hoë swaelvlakke laat waarskuwingsligte aangaan.

“Dit is belangrik dat gewone mense se eiendom beskerm en afvalwater ingevolge wetlike bepalings bestuur word.”

Hulle gaan die Groen Skerpioene versoek om ondersoek in te stel.

Zandisile Luphahla, woordvoerder vir die departement van landbou en omgewingsake, sê die departement van waterwese en sanitasie moet ’n ondersoek doen voordat die Groen Skerpioene ingeroep sal word.

Volgens Thoko Riet, munisipale woordvoerder, is hulle bewus van ’n hoër watertafel, maar wag op die uitslae van ’n ondersoek wat in samewerking met die departement van water en sanitasie gedoen word.

“Ons het gesien dat wanneer die stad se watertoevoer afgesluit is, water steeds in vloedwaterkanale vloei. Dit suggereer dat ondergrondse water na die oppervlak deursyfer.”

Die Ekapa-mynmaatskappy sê in ’n verklaring dat die watertafel aansienlik gestyg het ná hoë reënval oor die hele Kimberley-streek.

“Die streek ervaar ’n uitdaging om grootskaalse oorskotwater te bestuur, wat grondwater, oppervlakwater en rioolwater insluit. Ons help die departement van waterwese om die invloed oor ’n wye gebied te bepaal, wat ook Ekapa se mynreggebied raak.

“Die stygende watervlakke is oral sigbaar, soos aan die kante van die N12- en N8-roetes.

“Ekapa pas goedgekeurde waterbestuursprosesse binne die mynreggebied toe, waar die maatskappy sy verantwoordelikhede nakom.

“Dit is ’n dinamiese uitdaging wat ons voortdurend moniteer. Prosesse en ingrypings word toegepas namate die behoefte in verskillende gebiede ontstaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.