BLOEMFONTEIN. Die raad wat Lara Rossouw van Bloemfontein op haar Facebook gedeel het nadat sy op 17 Augustus op ‘n ongelukstoneel buite Jansenville in die Oos-Kaap afgekom het, het ‘n reuse-impak gehad om mense in te lig oor wat om in so ‘n situasie te doen.
Nie net is haar Facebook-inskrywing al meer as 4 000 keer gedeel en het meer as 1,5 miljoen mense dit al gelees nie, radiostasies soos RSG het al met haar ‘n onderhoud gevoer oor haar ervaring en die raad wat sy by kenners gekry het.

Lara Rossouw, eienaar van Spotted Apple, was dié Sondag van Gqeberha na Bloemfontein op pad toe sy eerste op die toneel van ‘n botsing reg van voor afgekom het. In die Facebook-inskrywing vertel sy hoe sy op die toneel gekom het en hoe daar kort daarna twee jong paramedici op die toneel was.
“Ek het die Here hardop geloof toe die twee daar aankom omdat ek baie oorweldig was en nie ‘n idee gehad het wat om te doen nie. Om die verantwoordelik met ander te deel, was vir my ‘n groot verligting in daardie oomblik.”
Sy skryf dit was eers ‘n uur en 15 minute voordat die eerste amptelike mediese hulp op die toneel was.
“Toe ek uiteindelik van die toneel wegry, het die toneel weer in my verbeelding afgespeel en ek het gewonder wat ek sal doen as ek weer so iets beleef. Dit is toe dat ek besef ek het geen idee nie!” skryf sy op Facebook.
Nie net het sy in die inskrywing haar ervaring beskryf nie, sy het ook by ‘n kenner raad gekry en dit stapsgewys gedeel.
“Wat ek nie besef het nie, is hoe ‘n groot impak die toneel op my gehad het,” sê Lara twee weke ná die ongeluk. “Mense het my aangemoedig om so gou moontlik berading te kry.”
Sy sê sy het gedink dit is nie nodig nie, maar toe sy die volgende oggend in haar motor klim en die petroldampe ruik, het sy naar geword.
Nie net het haar hande lam geword nie, maar haar sintue was ook hipersensitief vir reuke ná die voorval.
“Maak nie saak hoe goed jy voel nie, as jy trauma beleef het, kry berading,” is haar raad.
Hier is van die raad wat sy op die Facebook-inskrywing gedeel het danksy kenners:
- As jy iewers is war daar nie selfoonopvangs is nie, kan jy 112 bel. Hierdie nommer wat met satelliet werk, sal jou in verbinding bring met die polisie, ambulansdienste en die brandweer.
- Moenie vir die beseerdes op die toneel water of iets anders gee om te drink nie omdat hulle vandaar hospitaal toe gaan en dikwels dadelik teater toe gaan.
- Vind soveel as moontlik uit oor hoeveel voertuie in die ongeluk was, hoeveel insittendes daar is, hoe ernstig die beserings na jou mening is en waar die toneel van die ongeluk is.
- Watter items moet jy in jou eie voertuig hou om reg te wees vir ‘n ongelukstoneel: handskoene, ‘n flits, brandblusser, reflekterende baadjie.
Lees haar volledige inskrywing op Facebook hier.



You must be logged in to post a comment.