Ongelukstoneel op die R31-roete.
Die ongelukstoneel op die R31-roete waarin nege mense dood is. Foto: Facebook/Kuruman Accident and Emergency News

Drie botsings op twee berugte paaie in die Noord-Kaap het die naweek tot die dood van 14 mense gelei, waaronder drie kinders.

Twee botsings het op die R31-roete plaasgevind, en een op die R380, wat onderskeidelik as “die pad van die dood” en “voos gery en lewensbedreigend” beskryf word.

Saterdag (15/07) omstreeks 19:00 is vier mense dood op die R31, tussen Hotazel en Kuruman, en ses beseer toe ’n voertuig teen ’n voertuig van Aveng Moolmans gebots het wat werknemers ná hul dagskof vervoer het. Die vier oorledenes en ses beseerdes was by die maatskappy werksaam, sê die maatskappy in ‘n verklaring. 

Ná nog ’n botsing Saterdag, op die R380 by Kathu, ondersoek die polisie ’n saak van strafbare manslag.

Volgens sers. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, dui die voorlopige ondersoek daarop dat ’n vragmotor en ’n sedanmotor reg van voor gebots het. Die motor het aan die brand geslaan en die insittende het onherkenbaar verbrand.

In ’n botsing Sondag omstreeks 17:00 op die R31, tussen Daniëlskuil en Koopmansfontein, is nege mense dood, waarvan drie kinders. Ná die botsing reg van voor tussen ’n wit Toyota-bussie en ’n wit Polo is ’n verdere 11 mense in hospitale opgeneem.

Die provinsiale kommissaris van die Noord-Kaap, lt genl. Koliswa Otola, het padgebruikers gevra om alle padreëls te gehoorsaam, versigtig te wees en goeie gedrag te toon terwyl hulle op die pad is.

Die name van al die oorledenes was teen druktyd nog nie bekend gemaak nie. 

Die ongelukstoneel op die R31-roete waarin nege mense dood is.

Op die Facebook-blad Kuruman Accident and Emergency News het lesers met skok reageer.

“This is too much… visibility of traffic officers is needed… speeding, reckless driving, drink and driving, impatient etc is the cause,” skryf Neo Mashilo.

Annestha Engela skryf “die besige, besige en gevaarlike roete behoort twee bane in elke rigting te hê”.

“Pad van dood daar te veel gate en trokke en mense vat kanse,” skryf Isabel le Roux.

Mahlatse Wiwi skryf: “People overtake even when there are barrier lines. It’s so scary how we drive on the road with people who don’t know what these road markings mean.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article