Opposisiepartye het Vrydag uit ’n spesiale raadsvergadering by die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley geloop uit protes teen ’n “kaderaanstelling” wat die ANC glo op hulle wou “afdwing”.
Die ANC, wat die meerderheid verteenwoordiging in die raad het, het eindelik hul kandidaat aangestel.
Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), Patriotic Alliance (PA), DA, Vryheidsfront Plus (VF Plus) en die Sol Plaatjediensleweringsforum het uitgeloop.
Die opposisiepartye beskuldig die ANC daarvan dat hulle ’n “ongekwalifiseerde kader” wil aanstel “met die oog op die R2,3 miljard wat die Ontwikkelingsbank (DBSA) vir die munisipaliteit gaan leen” om die grootmaatwaterinfrastruktuur te vervang.
Die raad moet onder leiding van die stadsbestuurder besin oor kandidate vir die waarnemende pos van direkteur van infrastruktuur. Dit kom nadat Boy Dhluwayo, vorige direkteur, se tienjaar-kontrak verstryk het.
Kobus van den Berg, VF Plus hoofsweep, sê hulle het geen idee gehad wat op die dringende raadsvergadering bespreek sou word nie. Dit blyk toe die betrokke aanstelling te wees.
“Met die aanvang van die vergadering was die ANC se banke vol; hulle het geweet wat kom. Hulle het dadelik Phetole Sithole, hul gunstelingkandidaat, voorgestel. Sithole het nie toepaslike kwalifikasies nie en werk in die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling. Nomazizi Maputle, speaker, wou ’n onmiddellike stemming hou.
“Die opposisie het beswaar gemaak, want ons ken nie die moontlike kandidate nie. Die DA het Tebogo Matolo as kandidaat voorgestel, ’n gekwalifiseerde siviele-ingenieurstegnikus wat reeds in die afdeling werk.
“Die stadsbestuurder is skynbaar onkant gevang, want hy het in daardie stadium nog nie die CV’s bestudeer nie. Hy het ná ’n kort verdaging met die CV’s teruggekom.
“Die speaker het nie die stadsbestuurder ’n kans gee om die kandidate voor te stel of toegelaat dat ons dit bespreek nie. Sy het ’n onmiddellike stemming laat doen, waarna die opposisiepartye daarop aangedring het dat hul teenkanting aangeteken word. Ons sal enige onwettige aanstellings betwis.
Pontsho Mocwana, EFF-streeksleier, sê dit is ’n strategiese pos wat nie enigeen kan vul nie.
“Ons weet daar is mense wat hul hande op die DBSA se geld wil lê. Keer op keer sien ons dit in die ouditeur-generaal se verslae, en niemand word vir onreëlmatige en ongematigde uitgawes verantwoordelik gehou nie. Ons wil ’n skoon pad loop.”
Dennis Pienaar van die Sol Plaatjediensleweringsforum beweer die raadsvergadering was nie onpartydig deur die speaker bestuur nie.
“Die beste gekwalifiseerde persoon moet as direkteur aangestel word om na inwoners se belange om te sien. Ons wil nie deel wees van ’n onwettige proses nie.”
Die DA-raadslid Chris Phiri sê die stadsbestuurder en sy komiteelede moet die CV’s oorweeg en ’n aanbeveling doen.
“Die stadsbestuurder is gekeer om die wetlik vereiste administratiewe prosesse te volg om ’n aanstelling te doen. Die ANC se voorkeurkandidaat het nie voorheen in die pos waargeneem soos hulle beweer nie. Hy het bloot ingestaan wanneer die vorige direkteur met siekverlof was.”
Die ANC het onderneem om kommentaar te lewer. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.


