Die diep watergevulde gat waarin ’n polisieperd van die polisie se berede eenheid ’n paar weke gelede tydens ’n patrollie in Rhodesdene, Kimberley, geval het, was onlangs steeds nie opgevul nie.
Die gat op die hoek van Rhodes- en Pickeringlaan is met linte afgesper. Dit volg ná munisipale herstelwerk in Rhodeslaan twee weke gelede aan ’n grootmaatwaterpyp wat weke lank gelek het.
“Ons kon nog nie vasstel of die lekkende pyp in die betrokke gat verband hou met ander lekkende pype in die buurt nie,” sê Thabo Mothibi, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit.
Munisipale werkers spook steeds om die lekkende pyp in die gat te herstel. Verlede week het twee werkers probeer, maar moes opgee omdat die waterdruk te sterk was. Hulle het in die gat van meer as 2 m diep gewerk, en was druipend nat toe hulle uitklim.
Die hingsperd Moonlight, deel van die polisie se berede eenheid, het op 16 Julie tydens ’n patrollie in die gat beland.
Hy het byna twee uur met sy hele agterlyf vasgesit, terwyl die voorpote vry op die grond was. Lede van die polisie se soek-en reddingseenheid, die Sol Plaatje-munisipale brandweer, DBV, ’n private veearts en ’n sakeman is ingeroep om met die redding te help.
Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die Kimberley-berede-eenheid het sigbare patrollies in die Carters Glen-omgewing gedoen.
“Op die hoek van Rhodes- en Pickeringlaan het Moonlight, met ao. Brandon Mally op sy rug, oor ’n sinkgat geloop wat na bewering nie sigbaar was nie weens sand en gras wat dit bedek het. Sy perd het met sy agterbene in die gat geval en die ruiter het weggespring. Nie die perd of ruiter is beseer nie.”
Dr. Jozanne Nel, veearts, en haar assistent Joané Olivier van Vets 4 All-dierekliniek het na Moonlight omgesien. Pieta Serfontein, sakeman, het die laaigraaf voorsien om die perd met bande om die lyf uit te lig.
Ryno Griesel, logistieke beampte van die munisipale brandweer en Quinton Jampies, veiligheidsbeampte, het ook met die redding gehelp.
Die gat is later gemeet, en is 2,2 m diep met ’n deursnit van 1 m.


