Die Laeveldse Pumas het die Griekwas Vrydagaand (24/03) met 28 – 13 in ’n kragmeting in die Curriebekerreeks geklop.
Ongeag hanteerfoute met sy lynstane op die nat veld in veral die eerste helfte, het die Puma-span onderstreep hoekom hy die Curriebekerkampioen is deur die Poubloues stelselmatig en doelgerig pap te speel.
Griekwas het verlede jaar in die eindstryd van die Curriebeker tweede viool teen die Pumas gespeel.
In die skrums het die Laevelders se immergroen loskopstut Corné Fourie (34) die Poubloues se vaskopstutte, eers Cebo Dlamini en later Junior Banda, harde bene laat kou.
Pieter Bergh, afrigter van die Griekwas, hoop die vaskopstut Janu Botha sal die komende naweek sy terugkeer na die speelveld kan maak nadat hy op die krukkelys was.
“ ’n Mens moet krediet gee aan die Pumas, hulle het baie goed verdedig. ’n Mens kan duidelik sien hulle speel met baie selfvertroue,” sê Bergh.
“Die spelers is baie teleurgesteld oor die uitslag. Ons voel regtig ons kon hierdie wedstryd gewen het.”
Die Griekwas se volgende wedstryd is Saterdagaand (01/04) teen die Westelike Provinsie (WP) in Kaapstad.

