Die finale produk, biohoutskool. FOTO: Verskaf
Die finale produk, biohoutskool. FOTO: Verskaf

Danksy ’n baanbreker-biohoutskoolinisiatief kan boere in die dor Hantam-streek van die Noord-Kaap moontlik binnekort voordeel trek uit die herstel van gedegradeerde weidingsgrond en grondwater.

Die verwoestende verspreiding van die indringerspesie Prosopis (ook bekend as “mesquite”) is die teiken van die projek. Prosopis het reeds groot dele van die area se boerderygrond vernietig. Fase een se mikpunt, wat teen die einde van 2025 van stapel gestuur word, is om in die eerste jaar 3 000 hektaar op te ruim. Die einddoel is die opruiming van 23 000 hektaar en om in die proses sowat 10 000 ton bio-houtskool te produseer.

Die indringer Presopis-bome in die Noord-Kaap. Foto: Verskaf

“Ons verwag dat die eerste fase minstens 100 werksgeleenthede sal skep,” sê Rian Genis, besturende direkteur van Kickstart Capital. Hierdie biohoutskoolinisiatief (“biochar”) is deur Terraligna, ’n filiaal van die privaat beleggingsnetwerk Kickstart Capital. Genis verduidelik die naam “Terraligna” is die Latynse woorde vir “aarde” en “hout”.

“Dit is ’n volhoubare, uitbreibare oplossing wat ook die omgewing en die lewensbestaan van plattelandse gemeenskappe sal  bevoordeel,” sê hy.

‘n Deurslaggewend belangrike deel van die projek is die twee bio-houtskool-oonde wat binnekort in die Hantam-streek opgerig sal word. Verdere eenhede sal bygevoeg word namate die projek groei.

Nasionale uitdaging, plaaslike oplossing

Die wye en vinnige verspreiding van indringerplantspesies is ‘n enorme nasionale uitdaging, met Prosopis een van die grootste bedreigings. Sowat 7,3 miljoen hektaar – ongeveer 6% van Suid-Afrika se totale grondoppervlak – is reeds deur indringerplantspesies aangetas, ongeag jarelange en duur pogings om die indringing te stuit.

Ten einde internasionale teikens vir gronddegraderingsneutraliteit (“land degradation neutrality”) te bereik, is Suid-Afrika daartoe verbind om teen 2030 indringerspesies op meer as een miljoen hektaar grond uit te wis en 633 000 hektaar aangetaste grond te herwin.

Wat is biohoutskool?

Biohoutskool is ’n koolstofryke, grondverrykende stof wat geskep word deur middel van pirolise. Dit is ’n proses waartydens organiese materiaal soos hout in die bykanse afwesigheid van suurstof verhit word.

Biohoutskool in ‘n biohoutskooloond. Foto: Verskaf

Biohoutskool hou ‘n wye verskeidenheid landboukundige sowel as klimaatweerbaarheidsvoordele in. Dit sluit verbeterde grondvrugbaarheid en verhoogde waterterughouding tot die langtermynberging van koolstof in.

Van indringerlas tot ekonomiese geleentheid

Terraligna werk saam met hul sustermaatskappy Terravusa (afgelei van die Latyn vir “hernieu die aarde”).  Terravusa spesialiseer in die verskaffing van gepatenteerde boomvernietigingshormone. Dit is ontwikkel is om Prosopis-bome selektief uit te roei sonder om omliggende plante of diere te benadeel. Binne 18 maande ná behandeling kan indringerboomspesies vir biohoutskoolproduksie geoes word.

Rian Genis, besturende direkteur van Kickstart Capital. Foto: Verskaf

Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Kickstart Capital se moedermaatskappy Laeveld Agrochem, wys daarop dat die inisiatief se voordele verder as grondherstel strek.

“Dit sal ook vir boere inkomste uit die geoeste hout en herwonne weidingsgrond genereer en terselfdertyd opleidings- en werksgeleenthede skep,” verduidelik hy.

Veilig, volhoubaar

Onafhanklike laboratoriumtoetse bevestig dat Terraligna se biohoutskool geen skadelike reste van die boomvernietigingsbehandeling bevat nie. Die produk sal aanvanklik aan plaaslike landbouprojekte verskaf word. Indien die aanvraag laag is, sal die sustermaatskappy AgricultSURE opleiding, beginnerspakkette en ondersteuning bied om kleinskaalse boere en gemeenskappe te bemagtig.

Dring toenemend in

Sekere Prosopis-spesies is in die 1880’s na Suid-Afrika gebring om as voer en brandhout, en vir skaduwee gebruik te word. Met verloop van tyd het die boomsoort egter toenemend veld en weiding ingedring, veral in droë streke soos die Noord-Kaap.

Die probleem met Prosopis is dat dit water uitput, inheemse plantegroei verdring, biodiversiteit verminder en digte bosse vorm wat boerdery en wildlewe belemmer. Beheermetodes sluit biologiese behandeling, meganiese verwydering en verbranding in.

You need to be Logged In to leave a comment.